Kom ons vra nog ‘n keer die vraag:
Verras God ons nog?
Is ons vasgeval in voorspelbare geloofsbane?
Kan God ons nog beweeg om buite ons
gemaksone kerk en gelowige te wees?

Dink net hoe sal mense “geskok” wees as hulle
by ons kerk aansluit en nie inligting kry oor al
die gemeente programme en aksies nie,
maar eerder oor by watter armesorg, kinderhuise,
hulpbehoewende instellings, hospitale, klinieke,
motorhawens, straat evangelisasie aksies, en skole
hulle kan gaan dien met omgee en liefde.
Hoe wonderlik as die gemeente dan die lidmate
toerus om deurlopend daar te help!
En hoe om vir daardie plekke te bid – gereeld.

Het gemeentes nie in geloofs-pakhuise verander nie?
Nog erger: inhibeer gemeentes nie moontlik
geloof nie? Word geloof regtig gevra as byna alles
kerklik bestuur word aan die hand van begrotings,
programme en kalenders?
Word waagmoedige gelowiges regtig nog aangemoedig,
as alles jaar na jaar omtrent dieselfde bly?
Relatief min geloofs-gemeenskappe het regtig nog
‘n visie wat so waagmoedig is dat net God self
hulle kan help om dit te bewaarheid.

Laat ons enigsins nog ruimte dat God ons kan verras?
Vervul sy planne ons nog met uitdagings, ontsag,
opgewondenheid en waagmoed om op nuwe paaie
saam met Hom te stap?
Ons het ‘n indrukwekkende teologie en leer,
en ons dank die Here daarvoor!
En ons is so goed georganiseer, daarmee saam,
en so in beheer van sake,
dat selfs ons verhouding met God in
voorspelbare bane beland het!

Sê nou maar die enigste droom en visie van
die kerk sou van nou af wees om mense se liefde
vir die Here en vir mekaar, en hulle diensbaarheid
in hulle omgewing te verhoog.
Wat sou dan gebeur?
Hoeveel gelowiges het regtig die waagmoed om
hul gevestigde “veiligheid” in te ruil vir ‘n
verrassende daaglikse wandel met die Here?

Wie weet? Dan sal ons weer sout wees en
smaak gee waar dit regtig saak maak.
Nie sout wat op groot kerklike southope rondlê,
of in soutpotte opgegaar word nie.
Ons sal sout wees wat gestrooi word deur die Here self!
Sout moet uit die soutpot uit,
om gestrooi te word, smaak te gee, bederf tee te werk!
Matteus 5:13: “Julle is die sout vir die aarde.
Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout?
Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant gegooi
en die mense vertrap dit.”
Mag ons waarlik kwaliteit sout wees, wat die wêreld sout,
deur die Heilige Gees!

Ernest