Daar is mense wat moeilikheid soek.
Op ‘n goeie manier!
Hulle is soos die manne en vroue van die
Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) wat op
die see gaan wanneer daar ‘n storm op see is.
Wanneer almal hul sambrele pak,
en die strand verlaat, gaan hulle op see om te help.
Wanneer almal van die see af wegvlug,
vaar hulle die see in om te red.
Om ‘n boot in die moeilikheid te gaan help.
Brandweermanne en -vroue is ook so.
Wanneer almal ‘n brandende gebou uitstorm,
loop hulle in. Hierdie is mense wat juis in die storm,
of in die vuur op hul lewendigste voel en doen.
Die NSRI bestaan juis omdat daar moeilikheid op see is.
En as niks ooit aan die brand geraak het nie,
was daar nie brandweermanne en -vroue nie.
Christene is veronderstel om sulke mense te wees.
Mense wat kies om lig te wees juis waar dit
die donkerste is. Mense wat inbeweeg wanneer
dit ‘n krisis is. Mense wat risiko’s neem ter wille van
die evangelie en grense oorsteek.
Mense wat uit gemak sones beweeg.
Christene moet die plekke opsoek waar die nood
die grootste is. Die donkerste plekke in die wêreld is
veronderstel om die hoogste prioriteit
van die kerk te wees.
Dikwels is die teendeel egter waar en word
die meeste geld en energie spandeer op gemaklike
plekke waar daar reeds baie lig is.
Elke nou en dan hoor jy van nog ‘n kerk wat
in jou eie omgewing geplant is, in ‘n voorstedelike
woongebied waar daar reeds baie ander kerke is.
Waarom dan nie eerder in ‘n plakkerskamp,
of tussen ‘n klomp haweloses in die middestad nie?
Of waar daar nog onbereikte mense is nie?
Verbeel jou ‘n klomp brandweermanne en -vroue
moet besluit waar hulle ‘n nuwe brandweerstasie
gaan oprig. En dan begin hulle soek vir ‘n omgewing
waar die brandgevaar die minste is en waar daar
reeds ‘n klomp brandweerstasies bestaan!
In ‘n wêreld waar daar reeds soveel kerke is,
kan Christene ‘n enorme uitwerking hê as hulle weer
die gewoonte van die vroeë kerk in Handelinge aanleer:
om die moeilikheid te soek en die lig te wees
waar dit juis die donkerste is!
Matteus 5:14 en 16: “Julle is die lig vir die wêreld...
Laat julle lig so voor die mense skyn,
dat hulle julle goeie werke kan sien
en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
Pak jy jou sambreel en verlaat die strand?
Of gaan jy op die stormsee saam met die Here,
om te red?
Ernest