Ons hoor nooit iemand kla dat hy of sy
te veel geloof het nie.
Ons hoor ook nie mense kla dat hulle
te veel gebedsverhorings beleef nie.
Niemand wat glo sal ooit sê ons moet minder glo nie.
Ons sal nie hoor ons gróót geloof ruk nou hand uit nie!
Op die geloofsfront het ons almal te min krag of
te min geloof.
Geloof is immers nie bedoel om te gaan oor
hoeveel daarvan ons het,
asof dit ‘n databondel is wat die Here in verskillende
hoeveelhede aan mense uitdeel nie.

Wat is geloof? Geloof is die uitdrukking van
‘n lewende verhouding met God!
Geloof is op God gerig.
Geloof is in daardie opsig nie regtig meetbaar
in menslike terme nie.
Want dit gaan oor ‘n lewende verhouding met God.
En elke lewende verhouding met God is uniek.
Jy sal wel weet of jy ‘n lewende verhouding met God het.
En dit word nie gemeet aan hoe baie of hoe min sonde
jy het nie, en of jy baie reg en min verkeerd doen nie.
Geloof is uiteindelik ‘n persoonlike liefdesverhouding
met jou hemelse Vader.

Wat ons wel moet doen is om ons geloof gedurig
te oefen deur ons oog op Christus te hou!
“...en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê met
volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus,
die Begin en Voleinder van die geloof.” – Heb. 12:1-2.
Ongeag ons omstandighede! Dit is geloof!

Dit verskuif die aandag weg van onsself na God toe
– waar dit hoort.
“Julle geloof is ‘n offer in diens van God” – Fil.2:17
En dit laat ons juis nie ons geloof meet nie.
Dit laat ons deurlopend in ons geloof groei,
in afhanklikheid van God op Wie ons fokus.

Ernest