In die Bybel is daar hierdie kreatiewe spanning:
God eis onverdeelde trou aan Hom.
Jesus sê self dat Hy die Goeie Herder is,
en dat Hy die enigste ingang vir die skape is.
Maar dan waag Hy dit met gewone mense en Hy
vertrou sy genadeboodskap aan hulle toe.
Sy volgelinge was ook nooit die super-gelowiges
en die sterkes nie.
Sy eerste dissipels was gewone vissermanne.
Mense wat Hom verraai het, bang geraak het toe
hulle Hom moes volg, kleingelowig geraak het,
Hom nie altyd verstaan het nie, en aan die slaap
geraak het toe Hy hulle nodig gehad het.

Jesus self het voortdurend by brose mense gestop.
Hy het hulle nooit in hulle twyfel veroordeel of
verneder nie. Wanneer mense foute gemaak het,
het Hy genade en liefde betoon en hulle nader getrek.
Jesus het altyd die tweede en derde myl saamgestap.
In sy sekerheid oor Wie Hy is, was daar nooit ‘n hardheid,
hooghartigheid of veroordeling nie.
Jesus was gemaklik met siekte, swakheid, stof,
nederigheid, voete-was en kruis-dra.

Maar...Jesus se latere volgelinge het iets van hierdie
hartklop verloor. Ons wil vandag werk met begrippe
soos krag, sterkte, getalle, mag, leierskap en grootheid.
Jesus het juis die konsep van heerskappy en mag uitgedaag.
Hy het eerder diensbaarheid verkondig, en dit self uitgeleef.
Jesus is dikwels in ‘n dienskneg gestalte.
So kom Hy na die wêreld toe, volgens Fil. 2:7:
“...maar Hy het Homself verneder deur die gestalte
van ‘n slaaf aan te neem...”

Die meeste kommersiële gospel liedere sing van
grootheid en oorwinning, en skram weg van diensbaarheid
en broosheid. In briewe-kolomme word die wat broos is
veroordeel en uitmekaar getrek.
Mense wat foute gemaak het is bang om in die kerk te kom.
Hulle ervaar dat hulle bekyk en beskinder word.
Hulle ervaar die kerk het ‘n tuiste vir “volmaaktes” geword.
Jy moet reg glo. Die verpakking van aanbidding moet reg wees.

Mense wat twyfel is te bang om dit te sê.
Jy word in jou twyfel en geloofs-worsteling gekruisig.
Ons vergeet dat ons almal maar stof-mense is.
Paasfees verkondig aan die een kant die grootste sekerheid,
Christelike fees, en oorwinning ooit. Aan die ander kant word
dit verpak in die gedaante van broosheid en nederigheid.

Een van die mooiste flieks ooit, “As it is in Heaven”,
leef steeds in mense se harte omdat ‘n brose gemeenskap
die mooiste musiek kon maak en die kerk gehelp het om
te besef hoe broos ons almal is.

Hoe kan ons as kinders van die Here ‘n verskil maak?
Ons moet weer ‘n profetiese geloof uitleef.
‘n Geloof wat daarop ingestel is om met deernis
na stukkende mense te luister, en na hulle toe te gaan.
Om hulle te gaan soek!
En hulle te dien met die liefde van Jesus.
Ons moet helend betrokke raak!
Verstaan ons? Of raak dit te laat?
Wat gaan jý doen?

Ernest