Baie mense is nie so gemaklik om emosie in
aanbidding of in ons geloofs-belewing te wys nie.
As ons verstaan, en weet, so voel dit vir ons,
het ons beheer. Dit is nie dat ons ‘n stroewe geloof
het nie. Inteendeel. Ons sing van lof en vreugde,
en verkondig dankbaarheid, en vier nagmaal
as vreugdefees, maar tog bly ons gesigte dikwels
stroef en geslote.
As ons so sukkel om die blydskap en dankbaarheid
op ons gesigte te wys, is dit ‘n nog groter probleem
met die hartseer in ons lewe. Trane is slegs toelaatbaar
by roudienste en begrafnisse, of in die pastorale
spreekkamer. Dáár is dit gemaklik en gepas.
Dit is die veilige ruimtes waar ons mag huil.
Toe die Pan Am-vliegtuig in 1988 op die dorpie
Lockerbie in Skotland neergestort het,
is ‘n totaal van 270 mense dood. Verskeie monumente
is ter nagedagtenis opgerig. Susan Lowenstein,
een van die ma’s wat ‘n kind in die lugramp verloor het,
het ‘n beeld van 43 huilende vroue gemaak.
Dit sê iets oor huilende mans. Net vroue mag hieroor
gehuil het. Die mans moes hulle ondersteun...
So is dit ook in ons eie samelewing. Kinders word
grootgemaak met die gedagte dat ware mans nie huil nie.
Tog weet ons dat ons dikwels deur iets geraak word wat
die trane laat loop. Sommer so in die gewone gang van
die lewe. En ons voel verleë of onbeholpe met ons
eie trane, of die trane om ons.
Jesus se oproep tot lewens-aanbidding help ons.
In Lukas 10 roep Hy ons op om Hom met hart, siel, krag
en verstand lief te hê en gee ons daarmee die opdrag
en vryheid om meer te mag voel! Met ons hele menswees.
Ons aanbid God nie net met ons kop nie.
Ons moet in ons totaliteit reageer teenoor God.
In wat ons kies. Wat ons voel. Wat ons dink. En doen.
Iets intens gebeur in ons verhouding met God wanneer
daar ‘n raakpunt is tussen ons emosies, liggaam,
intellek en wil. Dit is daardie oomblik van ware berou
oor iets wat jy verkeerd gedoen het, en soos die
tollenaar net uitroep “wees my genadig”.
Dit is daardie oomblik waar jy jou nie kan blind hou
vir ‘n stukkende wêreld nie. Of daardie oomblik
wanneer jy hoop en uitkoms ervaar. Of daardie
oomblik wanneer gebed gevoel gee aan jou hart,
en jou woorde ontbreek. Wanneer musiek, kuns,
‘n boek of ‘n fliek jou laat huil.
Jy kan dit nie verstaan of uitredeneer nie.
Ons het meer siel en meer trane nodig,
in plaas van die vermyding daarvan.
Ons kan ons emosies meer omhels in aanbidding.
Dit kan ons help om in beweging te kom en dinge
te doen, en meer intens te leef, as wat ons sou doen.
Ware emosie is nie verlammend nie,
maar gee meer lewe.
Soos Jesus dikwels met sy emosie getoon het...
Ernest