Dit voel of ons begin het met kits koffie,
en nou is dit al ‘n kits-lewe. Alles raak “kits”,
en weggooibaar. Van weggooi skeermesse
tot weggooi baba-doeke.
Ons kan omtrent enige iets weet met die druk
van ‘n google-knoppie. In vliegtuie en motors rits
ons die wêreld vol sonder om osse of perde in te span.
Op jou selfoon kan jy in die tuin sit en uitvind wat
wêreldwyd gebeur. Nuus. Kommunikasie.
Pasklaar klere en kos.
Wat doen dit aan die manier waarop ons aan
die lewe dink? Dit skep die perspektief dat alles maklik
moet wees en maklik bereik word.
Advertensie slagspreuke soos: “Alles loop reg, altyd reg...”
Die probleem is dat alles nie altyd reg loop nie!
Mense beleef nou gouer ‘n gevoel van mislukking
as gevolg van hul suksesperspektief.
Gouer depressie. Gouer moed opgee.
Vraag is selfs of dit vir ons daarom moeiliker raak om
ernstige siekte of die dood te verwerk?
Is dit oor hoe ons God verstaan? God word nou die
een wat moet sorg dat alles glad verloop.
“Alles reg...altyd reg.”
Dan moet gesondheid altyd op siekte volg.
Sukses op mislukking. Ons kies antwoorde op gebed.
En as dit nie gebeur nie het ons ‘n geloofskrisis.
Dan het God ons in die steek gelaat...
Ons sing in goeie tye saam met Habakuk dat ons
in die Here sal jubel, al loop wat ookal verkeerd.
Maar as ons wêreld in duie stort, sukkel ons saam met
die Klaagliedere om aan God te bly vashou.
So asof God soos ‘n ligskakelaar is. Druk Hom met die
knoppie van gebed, en Hy skyn.
Moeite en ellende bly ‘n werklikheid in hierdie wêreld.
Ons moet geloof hou en kop hou te midde daarvan.
Die kitswêreld het dit nie laat verdwyn nie.
Tsoenami’s, vulkane, siklone, droogtes, oorstromings...
Dit is alles deel van die lewe. Dit is nie abnormale
verskynsels nie. So ook siekte, hartseer, die dood,
verlies, swaarkry...dit is hoe die lewe is.
Daarom praat Paulus in Romeine 8:18 van die lyding
wat ons nóú moet verduur...in hierdie lewe.
Maar in dieselfde vers sê hy dit weeg nooit op teen
die heerlikheid wat God gee nie.
Perspektief.
Ernest