Ons hoor dikwels “tyd is geld”.
Dit word nou tot die evangelie verhef waarvolgens
ons leef en waardeur ons waardes bepaal word.
Ouers werk al hoe harder en al hoe langer ure,
en regverdig die wegwees van hul kinders onder die
dekmantel van “ons wil net die beste vir hulle gee”.
Kinders word nou groot met ‘n kry-kultuur in plaas
van ‘n saamwees-kultuur. Navorsing wys dat mense
gemiddeld al minder slaap en die kers aan al die
kante brand om “by te bly”. Alles moet vinniger
gebeur en iemand moenie “te stadig” voor jou ry nie.
Al is hy op die spoedgrens druk jy toeter en druk verby.
Ons jaag, en ons word kits-mense.
In die proses verleer ons om na iets uit te sien en die
grootheid van oomblikke aan te gryp.
Kinders moet ook nou presteer in oorvol programme.
Nie tyd vir speel en kindwees nie. Daar is nie meer
‘n verskil in weeksdae en naweke nie. Al die dae lyk
dieselfde in terme van wat ons doen.
Daar is “nie meer tyd” vir net menswees nie, en speel,
stilte, stiltetyd, gebed, aanbidding, dink, en lag nie.
Is dit die ritme wat God vir ons in gedagte het?
Duidelik nie volgens die Woord van God nie.
Ons sal dringend teen die regte spoed moet begin leef.
Dit het niks met luiheid of ondoeltreffendheid te doen nie.
God se spoed en ritme en denke oor rykdom lyk heeltemal
anders as dit wat ons nou doen!
God skep ‘n gesonde ritme tussen werk en rus,
en rus self op die sewende dag. Jesus “maak tyd”,
om stil te wees by sy Vader.
Die regte spoed is om te weet wanneer genoeg nou
genoeg is, en op te hou. Jy kan net in een huis op ‘n slag
bly en net op een bank sit.
Die regte spoed is om eenvoudig te begin leef.
Glo God as Hy sê die rykdom lê daarin. In eenvoud.
Richard Foster noem sy boek hieroor
“The Celebration of Simplicity”. Viér en lééf eenvoud!
Die regte spoed is om jou kinders te sien, te geniet,
en te beleef. Hulle wil hulle ouers sien,
en nie hul ouers se geld nie.
Die regte spoed is om saam met jou vriende en
medegelowiges te kuier.
Die regte spoed is om stil te kan wees en
daarmee gemaklik te wees.
Die regte spoed is om in ‘n sinvolle verhouding
met God te leef. Dit vra stil tye saam met Hom.
Het jy nog die moed om stroomop te begin swem?
Of word jy net meegesleur totdat dit te laat is vir
jou huwelik, jou kinders, jou vriende, jou lewe,
en jou God...?
Ernest