Ons landskap lê besaai met stukkende huwelike.
Die duiwel wil met alle geweld elke huwelik vernietig.
Daarmee word soveel skade in soveel mense se
lewens aangerig. Daar is nie eenvoudige antwoorde nie.
Dikwels is probleme so swaar gelaai met bagasie dat
‘n oplossing soos ‘n stippel op die horison lyk.
Petrus gee ons raad in 1 Petrus 3 om moeite te doen
met ons huwelike.
Dit is so belangrik dat albei partye mekaar respekteer.
Dat albei deernis het vir mekaar se swakhede.
Dat albei probeer sterk wees waar die ander swak is.
Dat albei sensitief is vir mekaar se drome en begeertes.
Dat hulle ordentlik met mekaar kommunikeer.
Mekaar vergewe. Mekaar liefhet, met deernis en begrip.
Moontlik is een van die grootste redes vir moeilikheid
in die huwelike ons eie ego’s. Dit is só groot!
Ons ego’s word so groot dat dit vierkantig in die pad kom.
Die duiwel weet hoe vinnig die eie ek opstaan en fluister
gedurig in ons oor goed wat nie waar is nie, baie subtiel.
Dit sal wys wees om eerder na God te luister oor
jou huwelik. Jy dink jy doen...maar doen jy?
Vra jy byvoorbeeld altyd eerste waar jy kan dien?
Of word jy net gedien? Vra jy hoe jy die minste kan wees?
Of handhaaf jy jou “self”? Vra jy hoe jy regtig die man kan
wees wat God wil hê jy moet wees, sodat jou vrou die
vrou kan wees wat God wil hê sy moet wees?
En andersom.
Die huwelik is seker die waardevolste instelling van God.
Ons moet ons ego’s terugskuif sodat God se wil op die
voorgrond skuif in ons huwelike.
Daarom kan ons die huwelik soos ‘n driehoek voorstel.
God is die boonste hoek. Die man en vrou is die ander
twee hoeke. Hoe nader elk van hierdie hoeke na God
se hoek beweeg, hoe nader beweeg die hoeke van
man en vrou ook na mekaar.
Hoe nader jy aan die Here leef, hoe nader leef jy aan
jou God-gegewe huweliksmaat.
Martin Luther het gesê: “Voor die huwelik kies ek wie ek
wil liefhê. Na my troue het ek die en lief wat ek gekies het!”
Die mooi is wat in 1 Petrus 3:7 staan,
naamlik dat huweliksmaats saam met mekaar deel
in die genadegawe van die lewe!
Deel saam! Met mekaar!
In die lewe as genadegawe!
Ernest