Die meeste van die tyd weet ons baie goed
wat reg of verkeerd is.
Daar is ook goed wat ons doen en nie weet
dat dit verkeerd is nie.
Maar kom ons los eers daardie,
en werk met die wat ons weet verkeerd is.

Wanneer dit by sonde kom is die eie ego die
grootste oorsaak.
Petrus wil ons in 1 Petrus 3:8 hiermee help:
“Vir julle almal kom dit hierop neer:
Moenie dwarstrekkerig wees en elkeen sy eie kop volg nie.
Wees sensitief vir mekaar se gevoelens.
Soos jy jou eie broer of suster liefhet,
moet julle mekaar liefhê.
Gee vir mekaar om en moenie te veel van jouself dink
ten koste van ander nie.”
Die eerste deel van die teks sê in soveel woorde dat jy
dwars trek as jy jou eie kop volg.
Hoekom? Want dit is net die eie ek se behoeftes
wat die eie ek in die oog het as die eie ek
‘n besluit moet neem!
Dan gee ek nie veel om vir wat die ander se belang is nie,
en of die ander een dalk reg is nie.

In die meeste van ons kopstampe is die eie ego baie
prominent. Ons moet wegdraai van onsself.
Petrus sê hoe: “...Wees sensitief vir mekaar se gevoelens”,
en bietjie verder in die vers nog raad:
“...Gee vir mekaar om en moenie te veel van jouself dink
ten koste van ander nie.”
Ons kan nie maar bly trap waar ons wil nie.
Ons moet stadiger wanneer dit by ander kom.
Ons moet teen die tempo van die Heilige Gees beweeg,
met deernis, sensitiwiteit, en omgee.
Vra jouself: Hoe gaan ek ander se gevoelens raak
as ek met my tong soos ‘n sweep deur hulle lewe klap?
Stel die ander se belange eerste.
Bid dat die Here jou sal help om ‘n fyn aanvoeling te hê
om die minste te wees. Sensitief te wees. Om te gee.

Ernest