Om jou tong in toom te hou beteken nie om weg
te skram van die waarheid wat gesê moet word nie.
In Handelinge 17 word Paulus voor die regsgeleerdes
gesleep omdat hy ‘n ander waarheid verkondig as wat
hulle wil hoor. Maar hy staan sy man en gebruik die
geleentheid om hulle te konfronteer oor hulle geloof.
Hy getuig van die ware Verlosser wat gekom het!
Op ‘n manier vat hy hulle voor die bors en wys duidelik
vir hulle hoe ver hulle geloof van die pad af is.

Dit help nie om mense te paai terwyl hulle die lewe mis nie!
Ons kan en moet die waarheid op die naam noem.
Geen sagte landings sonder effek nie.
Maar dit gaan oor die manier hoe ons dit doen.
1 Petrus 3:9 help ons hiermee:
“As iemand lelik teenoor jou optree, moet jy nie op jou beurt
lelik wees nie. Hou jou skerp tong in, al beledig iemand jou.
God het julle die spesiale opdrag gegee om liewer mooi te praat
van ander mense en om God te vra om vir hulle goed te wees.”

Petrus praat hier oor die manier waarop ons met mense
kommunikeer en hoe ons teenoor hulle optree en ook van hulle
praat. Wanneer iemand “lelik” is met ons, vat ons tong oor en
die brein gaan in neutraal. Dit is moeilikheid.
Maak nie saak hoe die ander persoon praat, en of die ander persoon
die oorsaak is nie, ons moet steeds God eer met hoe ons praat.
Petrus sê dus: Praat mooi met ander mense. Praat ook mooi van
ander mense. Al is hulle tong buite beheer, beheer jou tong!

Dit vra juis “guts” om hier te reageer soos die Here wil.
Dit is maklik om te reageer soos jy wil. Maar doen die Here se wil!
Dit is juis nié ruggraatloos wanneer iemand só op jou trap nie.
Dit lyk of die ander persoon die oorhand het met ‘n tong wat
links en regs klap soos ‘n sweep. Maar dit is nie so nie.
Dit is jý wat hier in die oorwinning van die Here reageer.
Petrus sê dit glashelder in bogenoemde vers.
Neem ‘n oomblik en lees dit weer.
Die laaste deel van Petrus se woorde is ‘n hoër graad opdrag:
Vra God om juis vir hulle goed te wees! Met ander woorde:
Bid vir hom. Opreg. By God. En dan die laaste deel van vers 9:
“As julle dit doen sal julle ook van God al die goeie dinge kry
wat Hy beloof het.”
‘n Mooi preek? Nee.
Wel lewens-veranderende optrede in opdrag van die Here!

Ernest