Petrus hou nie terug nie.
Hy sê ons eintlik voor hoé ons moet lewe.
Christenskap is nie ‘n teorie nie, maar word gelééf.
Die uitdaging is om ons kennis van die Woord
te gaan lééf. Petrus gee praktiese raad oor hoé
om as Christene te leef.
Hy gaan haal selfs raad uit die Ou Testament,
uit Psalm 34:12-16.
In 1 Petrus 3:10-11 sê hy:
“Wie van die lewe hou en die beste daaruit wil haal,
moet ‘n wag voor sy mond sit. Hy moet nie lelik praat
of hom met allerhande liegstories ophou nie.
Hy moet wegbly van alles wat verkeerd is,
en elke kans aangryp om die goeie te doen.
Bewaar altyd die vrede; dit moet julle lewensstyl wees,
want die Here sorg vir die mense wat reg leef en Hy
luister graag wanneer hulle met Hom in gebed praat.
Die Here dink niks van mense wat hulle heeltyd
met verkeerde dinge ophou nie.”
Die raad is eenvoudig: hou jou tong in toom.
Dit het Petrus ook reeds in die vorige vers gesê.
Hy bly dit beklemtoon want hy weet hoeveel van ons
droogmaak met ons tong, en hoeveel skade ons
daarmee aanrig. Hoeveel verwoesting het ons nie al
met die tong gesaai nie?! Selfs sonder om dit te bedoel.
Dit bly my verantwoordelikheid om mooi te dink wat
by my mond uitkom. Praat reguit en bring die boodskap
opreg en suiwer. Om te sê “ek het dit nie só bedoel nie”,
neem nie die verantwoordelikheid van my af weg nie.
Let op die woorde: “...en Hy luister graag wanneer hulle
met Hom in gebed praat.” Bid...want God luister graag.
Praat met die Here – aanmekaar.
Laat dit ook deel word van jou lewensstyl.
Wanneer ons meer met die Here oor mense praat,
sal ons meer met mense praat soos die Here dit wil hê.
Ernest