Dit sou maklik gewees het as Christenskap kon
adverteer dat dit altyd goed of selfs beter sal gaan.
Dat die voorspoed jou sal “verveel”.
Dat jy nie meer probleme sal ondervind die dag as
jy ‘n kind van die Here word nie.
Soos die ou Toyota advertensie wat gesê het:
“Alles loop reg, altyd reg, Toyota!”
Maar ons weet dit is nie die werklikheid nie.
Kinders van God word nie in hierdie wêreld in watte
toegedraai nie. Inteendeel, die pad is dikwels vol slaggate.

1 Petrus 3:12-13 sê:
“As julle regtig probeer om goed te leef,
sal mense julle gewoonlik nie sleg behandel nie.
Maar as julle moet swaarkry juis omdat julle doen wat reg is,
is julle eintlik gelukkig. Moet net nie vir mense bang word
en die kluts kwytraak nie.”
Dit klink nie reg nie. Hoekom kan ek gelukkig wees
om swaar te kry? Want, sê die Engelse vertaling,
“...even if you should suffer for what is right,
you are blessed”.
Jy is, te midde van die swaar, in die “regte geselskap”!
Ons bly doen wat reg en goed is, al kry ons hoe swaar.
Ons bly doen wat God vra, al vra dit hoeveel energie ookal.

Wees daarom voorberei dat dit nie altyd maklik is om God
se wil te doen en uit te leef nie.
Jesus se lewe is tog bewys daarvan. Die wêreld ontvang ons
nie met ope arms omdat ons kinders van die Here is nie.
Hou vas aan God. Al raak die pad rof.
Jy sien dit dalk nie nou raak nie, maar eendag sal jy sien
hoe God met jou die pad gestap het, en jou laat groei het.
Hoe Hy aan jou karakter gebou het sodat jy meer en meer
soos Jesus kan leef, tot God se eer!
God is met jou besig. Hou vas, al is die rit stamperig!

Ernest