Dit is nie altyd maklik om sommer iemand trompop te
loop en te vra of sy of haar saak met die Here reg is nie.
Die meeste mense sal reguit vir jou sê hulle saak
is nie reg nie, of hulle sal die pad van goeie werke kies.
Daarmee dink hulle dan dat hulle ‘n plek by die Here
kan verdien. Maar dit is nie so nie.
Die antwoord is baie eenvoudig:
ek kan net met God in verhouding leef omdat Jesus
in my plek aan die kruis vir my skuld betaal het.
Wanneer ons egter in ons lewe die Here met toewyding
dien en volg, en so ‘n duidelike verskil in die lewe maak,
gaan mense ons begin uitvra daaroor.
Mense gaan iets by ons sien wat hulle ook graag wil hê.
Hulle wil ook graag kan lag, al druk die lewe swaar.
Hulle sal ook wat wou gee om jou gemoedsrus en vrede
te hê wat alle verstand te bowe gaan.
En daarom sal mense jou ook spontaan begin uitvra na
die vrug en lewe wat hulle by jou sien.
Ons weet natuurlik dit is die lewe in Jesus,
en die vrug van die Heilige Gees!
Petrus sê hieroor in 1 Petrus 3:15-16:
“Julle moet eerder wys dat daar in julle lewe net vir Een
plek is, naamlik vir Christus, die Here.
As iemand julle uitvra oor die dinge wat God julle
beloof het, en waarna julle so uitsien, gryp die kans aan.
Vertel hulle daarvan. Doen dit mooi, met eerbied vir God,
sonder om windmakerig te wees.
Sorg dat julle altyd doen wat julle weet reg is”.
Daar loop baie stukkende en soekende mense rond.
Die lewe het hulle al so aan die nek rondgepluk dat dit vir
hulle voel of daar geen lewe meer is nie!
Daar is nie kits resepte vir hulle nie. Besef dit,
en deel saam met hulle in die hardheid van die lewe.
Help. Wees daar. Al weet jy nie altyd hoé nie.
Laat die mense sien Wie in jou lewe die léwe gee.
Laat hulle sien jy sukkel en struikel ook.
Maar tog sien hulle jou hoop, en lewe, en vrede.
Daarom kom klop hulle aan.
Hulle smag ook na die ware lewe!
Moenie die kans laat verbyglip om hulle aan jou Verlosser
voor te stel nie. Moenie bang wees om dan te getuig nie.
Jy het nie ‘n klomp kennis nodig nie.
Vertel net van God en Wie Hy in jou lewe is.
Al lyk dit nie altyd so nie, brand hulle dat jy moet aanhou
praat oor Hom. Wees net bereid om óm te gee,
om daar te wéés, vir hulle.
Baie mense is soekend, daar waar jý die lewe leef.
Hulle sien dat jy opreg is, al maak jy foute.
Hulle sien dat jy liefhet en omgee.
Moenie bang wees en dink jy gaan hoë-graad vrae kry nie.
God sal sorg, in ons eenvoud!
Sal jy? Sien jy kans? Kyk weer wat Petrus sê:
Gryp die kans aan!
Vertrou die Here!
Ernest