Petrus gaan voort om te verduidelik dat ons kan leef
soos God wil hê omdat God ons eerste liefgehad het.
In Jesus het God dit kom bewys.
Jesus het na die aarde toe gekom om goed te doen.
Hy het na die aarde toe gekom om God se wil te doen.
Hy het werklik vir alle mense omgegee.
Hy het dikwels buite die menslike lyne en menslike
grense opgetree net om ander mense uit liefde te help.
Wette en menslike grense kon Jesus nie keer om sy
lewende liefde oor ander mense uit te stort nie.
En in dit alles moes Jesus ook ly en sterf,
ter wille van alle mense!
Dit is juis die mense vir wie Hy so lief was,
wat Hom aan die einde doodgemaak het!
Maar dit kon Jesus se liefde nie doodmaak nie,
want God se liefde spoel steeds oor na ons toe.

Wanneer ons dus swaarkry, juis wanneer ons goed doen,
moet ons onthou wat met Jesus gebeur het.
Petrus skryf in 1 Petrus 3:18:
“Dit het met Jesus ook gebeur. Self het Hy niks verkeerds
gedoen nie, maar Hy moes vir altyd vir ander se
verkeerde optrede sterf. Die Een wat niks verkeerds
gedoen het nie, moes so vir al die verkeerde dinge van
ander betaal. So het Hy dit egter vir ons reggekry om
by God uit te kom.”

Daarom moet ons nie heeltyd kla as ons swaarkry nie,
maar die lyding van Jesus ter wille van ons onthou.
As Jesus die beker moes drink, hoekom moet ek die
wyn uitspoeg, moed opgee, en skree ek kan nie meer nie?
Ons moet perspektief behou in ons lyding,
ter wille van Christus. Daarom word daar so dikwels
beklemtoon dat gelowiges moet volhard.
Of dit nou is ter wille van Christus en sy koninkryk,
of ter wille van die bou van jou karakter om meer en meer
soos Jesus op te tree. Dit gaan steeds oor Hom!
Onthou: Soos die Heilige Gees by Jesus was,
so is Hy ook by ons wat glo! Ook in swaarkry.

Behalwe dat Petrus vir ons wys op die swaar van Jesus
ter wille van ons, neem hy ons nog verder in vers 19:
“Deur die Gees is Hy na die geeste toe wat opgesluit is
en wag vir die oordeel. Vir hulle het Hy gaan vertel dat Hy
gewen het en leef!”
Jesus het as oorwinnaar uit die stryd opgestaan en bewys
dat daar net een God, een Gees, en een Verlosser is!
Onthou dit in jou swaarkry.
En leef saam met die Here oorwinnend daaroor.

Onthou ook in jou swaarkry watter groot genade jy
van God ontvang.
Rig jou lewe op die Here en leef liefde uit ten spyte van
watse omstandighede jy ookal in mag wees.
Petrus sê as’t ware; vat jou swaar soos ‘n man,
want God het jou só lief en is besig met jou,
ter wille van jouself, en ter wille van sy koninkryk.
Leef die lewe van ‘n verloste in die Here,
en maak ‘n verskil, ook in jou swaarkry!

Ernest