Verseker is ons swaarkry soms net te swaar
en net te seer, en dan verstaan ons dit nie.
Ons is mense. Maar keer op keer bemoedig Petrus ons
deur te verwys na Jesus wat ook onmenslik swaargekry het.
Ons kan nie ons swaarkry misken of ignoreer nie.
Maar hoe dit nou ookal vir ons klink, ons kry perspektief
as ons ontdek dat Jesus ook vir ons gely het,
en dat ons saam met Hom ly in hierdie wêreld.

In 1 Petrus 4:1-2 sê die Woord: “Jesus het as mens hier
op die aarde ook baie gely. As julle swaarkry, moet julle
net soos Hy maak. Sy voorbeeld moet julle sterk maak.
Iemand wat so swaarkry as mens, hou hom nie meer met
die sonde op nie. Sy ingesteldheid in die lewe is anders.
Hy hardloop nie heeltyd agter sy eie neus aan,
en doen net wat vir hom as mens lekker is nie.
Nee, al wat ‘n Christen graag vir die res van sy lewe wil doen,
is dit wat God – en nie mense nie – gelukkig sal maak.”

Wanneer ons swaarkry, weet Jesus presies waardeur
ons gaan. Hyself het ook op aarde verskriklik swaargekry.
Baie erger as ons! Daarom moet ons by Jesus leer hoe om
swaarkry te hanteer. Ons kan leer om nie die swaar toe te laat
om die lewe uit ons te druk nie. Ons kan leer om steeds God
se Naam te eer ten spyte van die trane en die seer.
Al het Jesus ook gesmeek dat die beker moes verbygaan,
was Hy steeds gehoorsaam en getrou en het Hy gedoen
wat die Vader van Hom verwag het.
Dit is verseker nie maklik nie. Maar inderdaad moontlik.

Hoe het Jesus dit reggekry om die “ondrinkbare” beker
te drink? Deur doelbewus weg te beur van die sonde af!
Dink maar aan die versoeking van satan in die woestyn.
Maak, soos Jesus, ‘n punt daarvan om teen die sonde
op te staan! Staan op teen die verkeerde dinge in jou lewe.
Dikwels gebruik God die swaar in ons lewe om die
verkeerde dinge uit te werk. Laat los dit.
kyk weer na die teks. Hardloop jy agter jou eie neus aan?
Dien jy jouself? Konsentreer soos Jesus daarop om God
se wil te doen, al is dit hoe swaar.
Dit gee die swaar weer sin in jou lewe...

Ernest