Ons ontvang verskillende gawes van die Heilige Gees
en daarom sal ons roeping ten opsigte van
sekere besonderhede verskil.
Maar daar is een gawe waarvan ons seker kan wees
dat die Here dit vir ons gee, en wil hê dat ons dit moet
uitleef, naamlik die liefde!
Sonder hierdie gawe kan geen ander gawe gebeur nie!
Dit moet soos ‘n goue draad deur ons hele lewe loop.
Dit is die begin, die wegspring, van alles wat ons doen.
1 Petrus 4:8 sê: “Daar is niks so belangrik as dat julle
mekaar liefhet asof julle eie lewe daarvan afhang nie.”
As jy weet jou lewe is in gevaar sal jy enige iets doen
om so gou as moontlik van die gevaar weg te kom.
Dit is vir jou lewensbelangrik!
Is dit vir jou lewensbelangrik om lief te hê?
Die lewe is nie altyd maklik nie,
en in die lewe is ons ook nie sonder foute nie.
Nogtans moet ons in dit alles mekaar liefhê,
en die liefde laat heers. Nie die omstandighede nie.
Petrus gee weereens praktiese raad oor ‘n paar dinge
in vers 8 en 9:
“Die liefde sien ander se foute oor en gaan nie daaroor
te kere nie”, en “As iemand by jou opdaag en jou hulp
nodig het, help hom met ‘n glimlag sonder om
onderlangs te kla of te brom.”
Dit is asof Petrus ons goed ken en sien hoe ons optree.
Hoeveel keer brom ons nie onderlangs nie...?
Ons doen wat ons weet ons moet doen,
maar brom en kla daaroor.
Daarmee trek ons ‘n streep deur die goeie daad,
en breek ook so die liefde se goue draad.
Sal ons nie vers 8 weer opreg ter harte neem
en dit doen soos wat die Here van ons vra nie?
Asof ons lewe werklik daarvan afhang!
“Daar is niks so belangrik as dat julle mekaar liefhet
asof julle eie lewe daarvan afhang nie.”
Dit is jou grootste God-gegewe roeping!
Ernest