Teenoorgestelde magnetiese pole trek mekaar aan,
en dieselfde pole stoot mekaar weer af.
Ons sê ook van verliefdes dat die twee soos magnete
aan mekaar klou. Sou dit nie wondelik wees as ou
getroudes dit steeds doen nie…
Dit is juis die verskille in die ander persoon wat
gewoonlik die aantrekkingskrag is.
Ons hoor baie grappies oor die huwelik.
Maar ons weet die huwelik is nie ‘n grap nie.

Romeine 15:7 sê: “Aanvaar mekaar dan soos Christus
julle aanvaar het tot eer van God.”
Dit beteken opofferings! Makliker gesê as gedaan.
Maar dit word van ons as kinders van die Here verwag.
Daarvoor moet ons eie belange en die belangrike “eie ek”
opsyskuif. Ook in jou verhouding met jou huweliksmaat
is jou verhouding met die Here bo alles belangrik.
Wat jy vir jou huweliksmaat doen, doen jy vir die Here.

Die Here is die Koning van jou lewe en van jou huwelik.
Sy wil, nie myne nie. Die Here se bedoeling is nie om mekaar
te verdra ter wille van vrede nie. Jesus sê in Johannes 8:29:
“Die Een wat My gestuur het, is by My. Hy het My nooit alleen
gelaat nie omdat Ek gedoen het wat Hom gelukkig gemaak het.”
God sal ook nie vir ons alleen laat as ons doen wat Hom
gelukkig maak nie.
God het ons geskep met die aantrekkingskrag van
teenoorgestelde pole. Maar God weet ook wat dit van ons vra.

Mag jou liefde vir God so sterk wees dat jy die andersheid
van die ander pool sal aanvaar en dat dit julle juis
na mekaar toe trek!
Omdat God dit van jou verwag, en omdat jy bo alles Hom
gelukkig wil maak en wil eer met jou huweliksmaat.

Ernest