Filippense 2:3 sê: “Moenie net aan julleself dink
of heeltyd aandag soek nie.
Wees liewer maar die minste sodat ander mense
die meeste kan wees.”
Ons hele wese en natuur is hierteen. Ons weet dit.
In ons natuur begin ons eerste by onsself.
Dit is soos instink. Soos selfverdediging wat inskop.
Wanneer jy van ander verskil dink jy eers aan jouself.
Wanneer jy iets ontvang, kyk jy selfs of jy nou meer
of minder as die ander ontvang het.
Voortdurend vergelyk ons,
om te sorg dat ons onsself laat geld,
of nie tekort gedoen word nie.

Dikwels ervaar ons dit as ons na ‘n argument kyk.
Ons sien hoe elke party net sy eie saak as reg sien.
Ons sien hoe mense nie na mekaar luister nie.
Ons sien hoe onnodig hulle mekaar begin seermaak
met dinge wat glad nie met die saak op die tafel
betrekking het nie, en ons besef ons doen dit ook.
Ons sien nie die ander een se punt in nie.
Dit is net “ek” wat tel.

Paulus wil in hierdie bogenoemde teksvers sê ons
moenie net aan onsself dink nie.
Moenie jouself laat geld ten koste van alles nie.
Selfs al is jy reg, doen en sê dan met grasie en begrip.
Moenie stoomroller nie.
Moenie belangriker word as die ander persoon nie.
Moet veral nie belangriker word as die Here
se wil vir die situasie nie!

Kom ons probeer dit opreg doen.
Kom ons tree net ‘n slag terug en kyk na onsself.
Hoe ons lyk...hoe ons optree...
hoe die Here daaroor sal dink en praat.
Soos die Kapenaar gesê het:
“Gee “airtime” vir die ander ou. Jy hoor hom nie.”
Kom ons luister veral na die Here.
Ons hoor Hom nie...ons hoor net onsself.
Filippense 2 gaan verder en sê in Die Boodskap:
“Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg.
Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het,
so moet julle ook daaroor dink en voel.”
Leef soos Jesus! Dink en voel soos Jesus...

Ernest