David Anderson vertel in sy boek, “Breakfast Epiphanies”,
hoe hy en ‘n vriend mekaar raakloop.
Hy vertel vir sy vriend hoe sy motor langs die pad gebreek
het en hoe lank hy op ‘n insleep voertuig gewag het.
Die vriend vra of dit dan sy motor was wat op ‘n sekere
plek gestaan het. “Ja”, antwoord Anderson.
Waarop die vriend sê dat hy sou gestop het,
as hy dit net geweet het.
Dit som min of meer ons eie soeke na God op,
sê Anderson in sy boek.
“Here, as ek geweet het dit was U, sou ek gestop het.”

Ons herken God nie aldag daar waar ons lewe nie.
Ons het stereotiepe idees oor waar ons God te wagte
kan wees. Ons verwag Hom in die kerk.
Ons verwag hom wanneer ons die Bybel lees of bid.
Maar min mense verwag God in die normale dinge
van die lewe. Ons sien Hom eenvoudig nie daarin raak nie.
Ons verwag God selfs net in amptelike godsdienste.
Tog is God oral. Ook by daardie motor wat langs die pad staan.
Ons moet net leer om Hom raak te sien en Hom oral te verwag.
Ook by omgekrapte mense, stukkende mense,
soekende mense, vreemde mense...alle mense.
Orals in die skepping.
Ons moet ook soos ‘n Jakob ontdek “God is op hierdie plek”.

Ernest