In 2009 was die New Oxford American Dictionary
se woord van die jaar die term “unfriend”.
Hul definisie hiervan is: “To remove someone as
a “friend” on a social networking site such as Facebook.”
Jou vriende op Facebook en jou volgelinge op Twitter
vertel wie jy is.
Vriende maak saak. En daarom kan jy iemand “unfriend”.

Het jy al gewonder wie God se vriende is?
Wie “volg” Hy, by wyse van spreke,
in terme van hierdie sosiale-media begrip?
Met wie sou Hy Hom bemoei?

Psalm 146 gee van die antwoorde, en dit laat jou dink:
Vers 5: Die mens wie se hoop op God alleen gevestig is.
Sulke mense vertrou nie op prinse en konings nie.
Hulle hulp kom slegs van die Here af. Jesus is hul Heer!
Vers 7: Verdruktes. God bevriend graag mense op wie
ander trap. Hy hoor hul noodgebede, en Hy sorg dat
reg geskied aan hulle.
Hongeriges: God se hart gaan uit na mense wat regtig
hongerpyne ken. God “dra vir hulle kos aan.”
Gevangenes: mense in tronke is nie vir God vergete nie.
Vers 8: Blindes. God gee soveel om vir blindes dat Hy
hul nuwe visie word en hulle Hom “sien”.
Teneergedruktes: Die Here tel hulle op as hulle val en
verbind hulle wonde.
Regverdiges: God het hulle lief. Hy koester ‘n
verhouding met regverdiges.
Vers 9: Vreemdelinge. God self is hulle beskermer.
Weeskinders en weduwees: hulle tel onder God se
gunsteling vriende. Hulle lyding en nood gaan nie
ongesiens by God verby nie.

Is daar mense wat God “unfriend”?
Vers 9 sê daar is...die Goddeloses.
Hy gee hulle oor aan hulleself!

Twee vrae bly oor: tel jy onder God se vriende?
En: Gee jy om vir God se vriende?

Ernest