“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou
broer se oog is, maar die balk in jou eie oog
merk jy nie op nie.” – Matteus 7:3.

Facebook, SMS’e, Twitter...sosiale media,
is gewilde plekke om halwe waarhede oor mense
te versprei. Mense glo so maklik enige iets wat
rondgestuur word sonder om die feite eerstehands
te kontroleer. Wanneer sulke inligting iemand se
goeie naam raak, kan ons dit nie verder aanstuur nie.
Ons mag nie. Dit het ernstige gevolge om mense met
óns maatstawwe te meet. Vir hulle én onsself.
Jesus waarsku ons in Matteus 7 om nie oorhaastig te
oordeel nie. God sal ons met dieselfde maatstaf meet.
Slegs die Here het die mag om te oordeel.
Laat dit aan Hom oor. Net die Here ken die volle
prentjie en het die mag om mense te oordeel.

God het ons geroep en aangestel om getuies te wees.
Wat ons moet wees en moet doen is om voltydse
vertellers te wees van God se reddings-aksies wat die
ewige lewe vir mense gee.
Ons moet orals bakens van God se genade en liefde oprig.
Ons het nie tyd om op onwettige regbanke rond te sit en
mense te veroordeel nie!
Ons moet vissers van mense wees,
nie aanklaers van mense nie!
Ons moet die aangename geur van die Evangelie versprei.

Moet ons stilbly oor ander se foute?
Haal elke slag eers die boomstompe uit jou eie
oog voor jy die splinter uit jou broer se oog wil haal.
Praat dan opreg met die Here oor hom of haar.
En gaan praat dan eers mét hom of haar,
met die gesindheid van Christus.
Moenie gaan rondpraat oor hom of haar nie...

Ernest