Geloof is geen waarborg dat die lewe se swaarkry
ons gaan systap nie. Gelowiges kry ook swaar en
beland ook in moeilikheid.
Weens eie of ander se toedoen...

Teresa van Avilla (1515-1582) se perdekar het een nag
in ’n storm omgeslaan en in ‘n modder gemors gelê.
Sy het hardop in frustrasie uitgeroep:
“Here, as dit is hoe U u vriende behandel, dan is dit
dalk hoekom U so min van hulle hier op aarde het!”

Soms beland ons met ons geloof en al in die modder!
Hoe ons in sulke tye en omstandighede optree,
bepaal of ons geloof ‘n getuienis gaan wees,
of ‘n verleentheid.
Daar is egter een gemeenskaplike kenmerk by kinders
van die Here: ons bly nooit in die modder lê nie.
Nog minder wil ons in die modder lê en rondrol.
Wanneer teenslae ons onverwags tref,
of wanneer ons oor ons eie sonde struikel,
kan ons dit nie verdra om met hierdie modder
besmeer te wees nie.
Kinders van die Here doen iets daaraan!
Die Gees van God laat ons net nie met rus nie.
Ons wil onder leiding van die Gees dit regstel.
Hy oortuig ons om weer skoon te kom voor God.

Die bevrydende waarheid is dat God nooit
sy kinders se hand los nie!
Ons is nie op ons eie as ons in die modder beland nie.
Ons is nie alleen as ons koers verlaat nie.
Die Gees bly besig met ons. Die Gees wil ons ophelp
met die liefde en genade van God!
Ons moet die Here se uitgestrekte hand raaksien
om ons op te tel. Daarom kan ons ook in ons nood
tot Hom roep. Om God te smeek om ons op te tel
is presies die regte ding om te doen.

Dit is ook dan ons getuienis geleentheid en maak
ons geloof aantreklik. Dit wys ons is nie skynheilig nie,
nie super-mense nie, maak ook foute,
en is afhanklik van die Almagtige God.
Dit getuig dat ons mense is met integriteit wat nie
ander veroordeel asof ons beter as hulle is nie,
en dat ons ook ons foute erken, bely, en nuut
saam met God begin.
Ons getuienis en reaksie in modder omstandighede
eer God en wen mense vir Hom!

Ernest