Daar is ‘n baie interessante teks in Prediker 9:11:
“Dit is nie die vinnigstes wat die resies wen nie,
nie die sterkstes wat die oorlog wen nie,
nie dié met wysheid wat kos het nie,
nie die verstandiges wat ryk word nie,
nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie.
Alles word bepaal deur tyd en geleentheid.”
Hierdie teks hou jou kop besig.
Baie mense is baie besig en tóg nie doodmoeg nie.
Ander is weer baie besig én doodmoeg.
Wat is die verskil in hierdie mense se “besig-wees”?
Ons sien ook minder besige mense, en tóg is hulle
uitgebrand. Hoekom is party mense doodmoeg,
gefrustreerd en oor die muur?
Dink bietjie hieroor:
“Frustration is a busy life headed in the wrong direction.”
Duidelik is leefspoed as sodanig nie die probleem nie.
Dit gaan oor impak, eerder as baie besig wees.
Dit gaan oor impak maak vir God, die regte soort impak.
Elke keer wanneer ons gefrustreerd en geïrriteerd is,
is dit nie omdat ons dagprogram vol is nie,
maar eerder omdat dit te vol is van dinge wat ons nie
moet doen nie, of nie veronderstel is om te doen nie.
Wanneer ons oorhaastig ja sê vir dinge, wat ons nie kan of
behoort te doen nie, is stres die eerste ding wat ons tref.
Die geheim van ‘n lewe wat tel is om te weet wat
my roeping is, om te weet wat ek daarom vandag
moet doen, en om dit dan met impak vir God te doen.
Waar wil die Here jou ontplooi, en hoé?
Om van vroeg tot laat in al die verkeerde rigtings te jaag
bloot net om mense gelukkig te hou maak nie sin nie.
Ek frustreer daarmee myself, ander, en selfs vir God!
Kies elke dag van voor af om eerder dieper vir God te loop,
dieper betekenis te hê en impak te maak,
eerder as wyd en vlak.
Kies vir minder van jouself en meer van Hom!
Kies vir minder kommer, rondhardloop, dinge doen wat net jou
program volmaak, maar wat nie daadwerklike verskil maak nie.
Ernest