Die “Ironman-Triathlon” is moordend.
Ongeveer 4 kilometer se swem.
180 kilometer se fietsry.
En ‘n vol marathon van 42 kilometer se hardloop.
Die strafste driekamp waaraan jy wêreldwyd kan deelneem!
Seker die strafste van alle byeenkomste.

Dick Hoyt het deelgeneem en die driekamp voltooi,
saam met sy fisies gestremde seun, Rick.
Met die swem het Dick vir Rick in ‘n klein bootjie saamgesleep.
Met die fietsry het Rick agterop gesit.
Met die hardloop het Dick al die pad vir Rick in ‘n rolstoel gestoot.
Merkwaardig is nie die woord nie!
Dit gryp jou eenvoudig aan!
Rick was totaal afhanklik van sy pa.
Sonder sy pa sou hy hoegenaamd nie aan die wedloop kon deelneem nie.
Hoe moes hy nie sy absolute afhanklikheid van sy pa beleef het nie?!
En die waardering en liefde in hulle twee se harte vir mekaar….wow!

So is dit ook met ons geestelike wedloop.
Sonder ons Abba Vader, ons PA, sou ons gladnie daaraan kon deelneem nie.
Net soos wat Rick absoluut afhanklik van sy pa was,
so is ons absoluut afhanklik van ons hemelse Vader,
om die Christelike wedloop te voltooi.
Ten spyte van ons eie vermoë, en beste planne, en vasberadenheid,
bly dit vir ons onmoontlik om hierdie wedloop te doen, sonder ons PA.
Deur ons eie krag alleen is dit eenvoudig onmoontlik.
Ons moet weer vandag besef ons het dringend, en indringend,
die krag van ons hemelse Vader nodig.

Daarom skryf Paulus hierdie woorde aan die jong Timoteus:
“Ek het die goeie wedloop afgelê;
ek het die wenstreep bereik;
ek het gelowig end-uit volgehou.
Nou wag die oorwinnaarskroon vir my.” 2 Timoteus 4:7-8.

Let op sy woorde: “...ek het gelowig end-uit volgehou.”
Geloof koppel ons swakheid aan ons Vader-God se krag!

Hoe moet ons nie, soos Rick met sy pa,
ons absolute afhanklikheid van óns Abba Vader beleef nie?
En die waardering en liefde in ons harte vir mekaar!

Ernest