Matteus 10:39: “Hy wat sy lewe wil behou,
sal dit verloor; en hy wat sy lewe ter wille
van My verloor, sal dit vind.”

In 167 n.C. het ‘n bloedige vervolging teen die
Christene in Smirna uitgebreek. Die kerkleier
Polikarpus het daar gewoon. Hy is die keuse
gebied om Christus te verloën en te bly leef.
Sy antwoord aan die vervolgers was eenvoudig:
“Vir 86 jaar het ek Christus gedien. Hoe kan ek
nou my Koning en Redder so beledig deur te maak
of ek Hom nie ken nie?”
Polikarpus het ‘n wrede martelaarsdood gesterf,
maar sy standvastigheid in sy geloof het gelowiges in
daardie stad aangemoedig om in hulle geloof te volhard.

Ons het mense nodig wat soos Polikarpus met integriteit
op God se pad leef. Hulle maak sy teenwoordigheid sigbaar
in die regte lewe. Hulle loop voor in die lewe om dapper
aan die Here se kant te kom staan.
Eie gerief en persoonlike belange word tweede gestel.

Ons plaas te maklik ons geloof in ‘n selfmaakte geriefsone.
Wanneer dit maklik is, is ons op ons pos vir die Here.
Maar wanneer dit ‘n swaar kruis kos om saam met die Here
te loop, dan deins ons terug. Dan laat ons die kruis val.
Dit gebeur wanneer ons voor in die ry van die lewe indruk,
eerder as om van agter af in die ry te dien.
Dit gebeur as ons uit onsself sterk wil wees,
eerder as om swak te wees in die Here.

Tog vertrou die Here ons elke dag weer en weer met die
aangee van sy kruis na ander mense. Dra dit vandag verder
vir die Here, en gee dit aan vir ander mense.

Ernest