Geloof gebeur nie op jou voorwaardes nie.
Geloof is ‘n verhouding met die Here wat
op sy voorwaardes gebeur.
Jy bepaal nie die reëls oor hoe, waar en wanneer
jy Jesus volg nie. Jy dien Hom. Hy is die Heer.
Sy wil is jou lewe.

Dissipelskap gaan altyd oor selfverloëning.
Dit gaan oor opoffering en diens. Dissipelskap is kruisdra.
Dit is ‘n lewenslange roete van gehoorsaamheid.
Dit is daarom dat Jesus jou in Lukas 14:26-27 oproep om
die prys van navolging deeglik te bereken voordat jy jouself
tot navolger van Jesus verklaar:
“As jy my dissipel wil wees, moet jy My liewer hê as jou
eie pa en ma, vrou en kinders, broers en susters –
ja, meer as jou eie lewe.
Anders kan jy nie my dissipel wees nie. En jy kan nie my
dissipel wees as jy nie jou eie kruis dra en My volg nie.”

Jy loop Jesus se roete saam met Hom.
Dit neem jou op plekke waar jy nie self sou gaan nie.
Daar waar mense as slawe van sonde, dood, eensaamheid,
magteloosheid en armoede leef.
Jy is ‘n uitdeler van hoop op die Here. Van sy genade en liefde.
Om Jesus te volg beteken nie om pad te gee uit die
regte lewe nie, maar juis daar die lewe vir die Here te leef.
Mense moet die ware lewe proe in jou teenwoordigheid.
Hulle moet die Here Jesus se teenwoordigheid aanvoel
omdat Hý deur jou daar werk.
Gaan leef jou geloof uit in die regte lewe.

Ernest