1 Korintiërs 3:16 sê duidelik dat die kerk nie
‘n statiese “iets” is nie, maar dinamiese mense!
“Weet julle nie dat julle die tempel van God is
en dat die Gees van God in julle woon nie?”
Niks kan meer dinamies wees as die Heilige Gees nie!
En die Heilige Gees woon in ons!
Daarom is ware kerk-wees dinamies!
Dit is nie ‘n statiese gebou of administratiewe personeel
wat maar net met “iets” besig is nie.
Die kerk is die Here se nuwe aardse volk wat deur Jesus
Christus losgekoop is uit die greep van sonde en die dood.
Elkeen wat deur Hom gered is, behoort nou aan Hom,
en is voltyds met dankbaarheid en vreugde in sy diens!
Ons is permanent deel van sy nuwe liggaam op aarde,
en elkeen van ons is ‘n noodsaaklike deel!
1 Kor. 12:27 sê dit mooi in die Nuwe Lewende Vertaling:
“Julle is Christus s liggaam en elkeen van julle is
‘n noodsaaklike liggaamsdeel.”
Daarom is ons gesamentlike byeenkomste só belangrik!
Daarin word ons as liggaam opgebou in ons geloof
sodat ons in die wêreld, in die regte lewe op die grond,
‘n impak kan maak in die Here se Naam.
Ons gesamentlike byeenkomste is familiefeeste.
Ons is immers deel van die huisgesin van God!
1 Tim.3:15: “...in die huisgesin van God,
dit is die gemeente van die lewende God.”
In die gesamentlike byeenkomste word die Here gedien
en geëer deur die hele familie. Ook luidkeels geloof!
Hier word ook gelowiges se wonde verbind en hulle wat
twyfel word bemoedig en ondersteun. Hier word ons
opgebou en toegerus deur die Heilige Gees.
Daarom wil die Here nie hê dat ons moet nalaat om die
byeenkomste by te woon nie. Heb. 10:25 sê:
“Ons moenie van die samekomste van die gemeente af
wegbly soos party se gewoonte is nie, maar mekaar eerder
aanmoedig om daarheen te gaan...”
Ons mis so baie van wat die Here vir ons bedoel en wil gee
by hierdie samekomste wanneer ons wegbly.
Dit lei ook tot skeefgetrekte godsdienstige idees,
en geestelike ondervoeding, en veral selfsugtigheid!
Jy gaan nie net om te ontvang nie, maar veral omdat
die Here deur jou ander wil bedien met sy liefde en genade,
én deur die gawes wat Hy aan jou gegee het daarvoor!
Jy gaan vir die Here en vir jou medemens,
en dan eers vir jouself!
Kerk gebeur dinamies wanneer jy hierdie waarhede gaan
uitleef in die samekomste van die gemeente,
en in die wêreld as gestuurde van die Here!
Kerk-wees is wie jý is vir die Here, in die familie,
en in die wêreld. Wat dink jy van die kerk van die Here?
In die spieël en in jou hart, sien jy die kerk van die Here!
Ernest