Om te sing is een van die heel belangrikste vorms
van aanbidding deur die kinders van God.
Efesiërs 5:19 beklemtoon die belangrikheid van sang
as vorm van aanbidding: “Sing onder mekaar psalms,
lofgesange en ander geestelike liedere;
sing met julle hele hart tot eer van die Here.”

Aanbidding van God en sang is sinoniem wanneer
dit met jou hele hart opreg gedoen word.
Sang is die uitdrukking van ons diepste gevoelens
van lof en dank in God se teenwoordigheid.
Sing is om te bid, want dit is gesprek met God,
saam met musiek.
Deur saam te sing, bid ons hardop, saam met ander.
God wil hê ons hart moet in ons sang wees.
Om nie te bedoel wat ons sê wanneer ons sing nie,
is dieselfde as om nie te bedoel wat jy sê wanneer
jy bid nie! Dit beteken jy doen dit nie tot eer van
die Here nie.

Die eerste en belangrikste van gebed en sang is om
God daarmee eerste te stel. Om God te eer!
Ons sang moet ons fokus weg neem van onsself,
doelbewus na God toe.
Ons sang is geloofsbelydenisse oor wie God is
en wat Hy doen. Dit is ook sonde belydenisse oor wat
ons doen. Hoe sou ons dit dan kan sing,
sonder om dit te bedoel?!
Ons sang is nie geestelike kruidenier-lyste van wat
God vir ons moet doen nie, net soos ons gebede dit
ook nie moet wees nie.

Ons sang gaan oor ons aanbidding, lof, en dank aan God.
En wanneer ons dan wel singend dinge van die Here vra,
of wanneer ons onsself singend tot sy beskikking stel,
dan doen ons dit van harte en opreg,
soos ons teksvers sê:
“...met julle hele hart tot eer van die Here.”
Sang is nie geestelike tydverdryf voordat die erediens
begin nie, en ook nie net mooi momente tydens die
erediens nie. Dit is opregte gesprek met God! Gebed!
Bedoel daarom wat jy sing, bedoel dit met jou hele hart,
tot eer van die Here.

Ernest