George McGovern het gesê: “I’m fed up to the ears
with old men dreaming up wars for young men to die in.”
Die term “generasiegaping” is eintlik ‘n relatief nuwe term.
Die woord “teenager” verskyn eers in 1673 in ‘n Engelse leksikon.
Die idee van generasiegapings duik eers in die negentiende eeu op.
Tans krimp die generasiegaping tussen ouderdomsgroepe vinnig.
Navorsing bevind dit is as gevolg van moderne tegnologie,
veral ten opsigte van die kommunikasie en openbare media.
Ruim tyd word op selfone en eposse deurgebring, asook SMS’e,
Watsap, en Facebook.
Hoër lewensverwagting lei ook tot nuwe generasiegapings.
Nuwe tegnologie en kennis oorbrug ook al hoe meer die
generasiegapings.
Ons lees van ‘n belangrike gebeurtenis in die Bybel
ten opsigte van generasiegapings.
Ons lees van ‘n verlore generasie wat iewers ontstaan het
tussen Josua 24 en Rigters 2.
Terwyl die ouer leiers van Israel plegtig in Josua 24 belowe het
dat hulle die Here van harte sal dien, vertel Rigters 2:10 dat
die daaropvolgende generasie Godloos grootgeword het.
Vers 10 sê: “Al die mense van sy leeftyd het gesterf,
en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie.
Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy gedoen het
om vir Israel te help nie.”
Dit is eintlik skrikwekkend!
Hulle het letterlik niks geweet van God se groot dade nie!
Hoe keer ons ‘n herhaling van Rigters 2:10 in vandag se wêreld
en in die konteks waarin jy leef?
Ons moet verseker weet die Bybelse roete van liefde is steeds
tydloos en nie generasie gebonde nie.
Geen generasie is bestand teen liefde nie.
God is liefde, en met liefde het God in Christus na die wêreld
gekom. “Want so lief het God die wêreld gehad...”
Die wêreld is nie immuun teen liefde en respek nie.
Ons moet oor generasiegapings mekaar liefhê met die Here
se liefde. Ons moet mekaar oor generasiegapings respekteer.
Ook van oud na jonk toe! Ons moet met onselfsugtige liefde
mekaar dien sonder om beterweterig te wees.
Ons moet mekaar met die liefde van die Here waardeer.
Ons almal is dieselfde wanneer dit by die Here se liefde kom!
Ons almal het dit onbegrens nodig!
Dien met liefde en begrip oor die generasiegapings!
Ernest