Mense is nooit te jonk of te oud om die hartklop
van die Bybel na te leef nie. Die Bybel dink nie in
terme van ouderdom wanneer die opregte uitleef
van geloof ter sprake is nie.
Petrus se woorde op Pinksterdag in Handelinge 2
verduidelik juis hoe die Gees met ouer mense in
drome praat en met jonger mense in visioene.
In 1 Petrus 2:15-18 kry ons ‘n verduideliking van ‘n
tydlose en generasielose roete van goed doen
aan mekaar in die Here se Naam.
Natuurlik moet ons wakker wees vir groeiende
generasiegapings. Ons moet nie blind wees nie.
Daarom moet verskillende ouderdomsgroepe
mekaar daadwerklik dien met die Here se liefde.
Die kerk kan nie bly terugsit en verwag dat
betaalde geestelikes dit doen nie.
Die toekoms van die kerk is minder geestelike
betaaldes. Eie-generasie-bediening is noodsaaklik.
Dink maar aan die Jeug tot Jeug Aksie van vroeër.
En verskillende generasies moet ook vir mekaar omgee.
So sal ons ‘n daadwerklike geestelike impak in die
Here se Naam maak.
Die 2011-sensus sê dat 29,2% van Suid Afrika se
populasie jonger is as 14 jaar. Slegs 5,3% is ouer as 65 jaar,
en 49,2% is jonger as 24 jaar!
Ouer mense moet daarom dringend in hul gemeenskappe
en gemeentes aanmeld as geestelike mentors!
Die betaalde geestelikes kan nie hierdie jong generasie
bereik nie. Mentors moet die jongmense dien en begelei,
en minder beterweterige opmerkings maak en terugsit
op die geestelike paviljoene.
Op hulle beurt moet jongmense dringend wyse mentors
bekom. Ouer mense moet weer begelei word in die vinnig
groeiende tegnologies veranderende wêreld.
Ons roeping as kinders van die Here is om generasiegapings
en enige ander grense tussen mense oor te steek,
in die Here se Naam, met liefde en diensbaarheid.
So kan ons voorkom dat verlore generasies ontstaan,
soos in Rigters 2:10:
“Al die mense van sy leeftyd het gesterf,
en die volgende geslag se mense het nie die Here geken nie.
Hulle het ook nie geweet van sy groot dade wat Hy
gedoen het om vir Israel te help nie.”
Het ons, hiérdie generasie van óns, al so in ons eie
godsdienstige geriefsones verstik geraak dat ons niks
omgee vir ander nie, en net onsself dien!?
Waar sit of staan jy rond? Wie dien jy?
Ernest