2 Korintiërs 12:9 verduidelik hoe God se krag in
menslike swakheid werk:
“…My genade is vir jou genoeg.
My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

God se krag is lewensbelangrik!
Ons kan niks uit eie krag doen nie, nie eers asemhaal nie,
want Hy gee ook dit! God is die enigste Kragbron.
Dit gaan oor Hom, en nie oor ons geestelike kragvertoon nie.
Hy is die oorsprong van lewe, genade, goedheid en krag.
Ons hoef nie eers God se krag te voel voordat Hy begin werk nie.
God werk ten spyte van wat ons kan waarneem of nie kan
waarneem nie.

Ons sal altyd ‘n krag-tekort ervaar as mense met ons beperkinge.
Daar is nie een teks in die Bybel wat sê dat mense nou genoeg
krag het, en nie meer absoluut van God se krag afhanklik is nie.
Konstant vra gelowiges nog meer krag van die Here.
Maar hierdie gevoel van kragteloosheid pas juis in by God se
sorg aan ons, en dat ons met die oog op Hom leef.
God openbaar sy genade en krag aan ons.

Hy verwyder nie maar al ons dorings in die vlees om
aan ons ‘n gerieflike lewe te gee nie.
Dit gaan oor God en sy koninkryk en sy voorsiening,
om sy koninkryk te laat kom. Kragteloosheid is juis
‘n belangrike roete om te weet dit gaan oor God,
en nie oor my nie.

Ons is nie die kragbron nie.
Ons is as’t ware die geleiers van God se krag.
Efesiërs 1:19 sê: “Sy krag is geweldig groot wat Hy uitoefen
in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag.”
God werk in ons met dieselfde krag as waarmee Hy
vir Jesus uit die dood opgewek het.

Ons roeping is slegs om die hemelse krag te gelei.
Ons is nie die eindverbruikers daarvan nie!
God se krag moet deur ons vloei na waar Hy dit wil gee
aan ander wat dit nodig het.
Die klem val nie op hoeveel krag ons self van die Here kry nie,
maar hoeveel daarvan ons gelei na hulle wat dit nodig het.
Ons is geleiers van God se krag na hulle wat dit nodig het,
die stukkende mense, verlorenes, uitgeworpenes,
en ook hulle in ons midde saam met wie ons leef.
God se kragtoevoer moet nie by ons stop nie.

Ons moet deurentyd ingeskakel wees by die hemelse kragbron.
Slegs deur ingeskakel, “ingeprop” te wees, kan ons deurentyd
geleiers van God se krag wees, tot God se seën vir ons en
mense rondom ons. Ons het nie nóg krag nodig nie,
maar die Here se genade.
Wanneer ons krag en genade omruil,
beleef ons soveel “kragonderbrekings”.

Ernest