Gebed is ons brandstof waarop ons loop.
Sonder brandstof gaan ons staan.
Gebed is lewensbelangrik.
Die vraag is of ons genoeg brandstof
bymekaarmaak om ons aan die loop te hou?
Wanneer ons op ons eie probeer beweeg kom
ons geestelik tot stilstand.
Paulus sê in Kolossense 4:2-6 ons moet gereeld
en gedissiplineerd bid. Die ou vertaling het gesê:
“Volhard in gebed.”

Dit is om gereeld by God se voete te sit.
Om doelbewus in sy teenwoordigheid te vertoef.
Dit is baie meer as ‘n skietgebedjie hier en daar.
Hoekom kom dit nie natuurlik vir ons nie?
Hoekom is dit nie bo-aan ons doen-lys nie?
Dalk is ons skugter om in God se teenwoordigheid
te wees as gevolg van hoé ons lewe.
Dalk is dit omdat ons te veel praat en God se stem
nie meer hoor nie.
Dalk omdat ons lewe net te gejaag geraak het.
Te besig vir God!

Tekort aan gebed is die grootste faktor vir chaos in ons
lewens. Baie van ons sukkel om gedissiplineerd en
gereeld te bid. Ons koppe skakel eenvoudig nie af nie.
Ons luister nie eers mooi na mekaar as ons met mekaar
praat nie. Ons koppe is gereeld besig, te besig,
met “ander dinge”.
Ons is eintlik aandag-afleibaar in ons gebede.

Die belangrike is en bly: doen moeite met gebed!
As jy te besig is vir bid, is jy te besig vir God.
Gebed is nie ‘n manier om van God gebruik te maak nie.
Dit is die belangrikste manier om onsself aan God te gee.
Ons doen dit sodat Hy ons dan kan gebruik.
Een van die grootste foute wat ons in gebed maak is om
te veel te praat en te min te luister.
Die hoogste vorm van gebed is om in stilte te wag,br> op God se stem.
Doen dit!
Wag op sý stem. Dit is nie passief nie.
Dit is baie aktief!

Ernest