Dit gaan nie in gebed oor my nie.
Gebed is nie ‘n inkopielys waarin ek my begeertes
aan God bekend maak nie.
Kolossense 4:2 sê: “Bid gereeld en gedissiplineerd.
Sê ook vir God dankie vir alles wat Hy vir julle doen.”

God staan in die middel van gebed.
Gebed is die eerste plek waar God meer raak en ek
minder. Gebed is belydenis dat alles van God af kom.
In gebed snap ek my eie onvermoë.
Ek kan nie anders as om God te loof en prys nie.
Gebed, ware gebed, oorval jou met dankbaarheid.
Ek besef hoe nietig ek is en dat ek alles van God ontvang.
Ek sê dankie dat ek eenvoudig kan asemhaal.
Dat my hart klop! Dat my hart elke minuut 4 tot 5 liter
bloed deur my liggaam pomp!
Dat ek niks daarmee te doen het nie, en dat God alles
daarmee te doen het! Dat lewe deur my are bruis.
Dat ware lewe deur my siel bruis!

Die Ou Vertaling het gesê: “Volhard in die gebed en
waak daarin met danksegging.”
Waak...laat ons dink aan wagstaan in die weermag.
Jy moet wagstaan om seker te maak dat die vyand jou
nie oorval nie. Net so moet ons wag staan om seker
te maak dat ons vir God dankie sê. Moenie dit vergeet nie!
Dankbaarheid gee aan God sy regmatige plek in ons
lewe en gebede.

Ernest