Die geraas van die wêreld ontneem ons van een van die kosbaarste dinge wat daar is.
Stilte, rustigheid en kalmte.
Dit het niks met ouderdom, of liefde vir musiek, of wat ookal te doen nie.
Meg Hutchinson het gesê sy volgende plaat moet 45 minute van stilte wees.
Dit was nog in die tyd van “plate”.
Nou het CD’s gekom, en DVD’s, alles saam met TV’s….
En as jy nie jou TV kan saamdra om dit te speel nie, doen jy dit met jou rekenaar.
Ook in jou motor kan jy dit nie ontsnap nie.
Blêrende advertensies, wat soveel moontlik woorde in ‘n minuut probeer inkry.
Ons nooi dit self orals in. Die lawaai. Orals!
Dan is daar nog die lawaai van verkeer, masjiene, en skreeuende mense.

Al hierdie lawaai is nie negatief nie, en maak lekker energie los.
Die probleem is net dat ons nie meer stil raak, en onsself en God hoor nie.

Al die lawaai help om ons nie eensaam te laat voel nie.
Tog word so baie van ons eensaam in al die lawaai.
Die lawaai help ook om ons eie gedagtes uit te sluit.
Ons wil nie te veel oor dinge dink nie, en dan lê ons tog wakker.
Die lawaai is ook ‘n manier om God uit te sluit.
Partykeer doelbewus, ander kere onwetend.

Jesus het selfs tydens sy besigste tye,
en te midde van die meeste lawaai van mense,
eenkant toe gegaan.
Vir stilte.
Hier kon Hy in gesprek met sy Vader kom.
Hier kon Hy sy Vader “hoor”.
En sy Vader kon Hom “hoor”.
Markus 1:35 sê:
“Die môre vroeg, toe dit nog nag was,
het Hy opgestaan en buitentoe gegaan
na ‘n eensame plek en daar gebid.”

Selfs al kan ons nie ‘n plek vind waar ons regtig stil kan wees nie,
moet ons leer om “stil te word”.
Ons moet rus en kalmte vind, sê Psalm 131:2.
Ons moet ‘n manier kry waarop God, en onsself, ons volle aandag kan kry!
Ons moet hoor wat op sy hart is vir ons.
En ons moet met Hom deel wat op ons hart is, vir Hom.
Moenie toelaat dat die geraas van die wêreld
hierdie kosbaarste skat by jou steel nie!
Jy hét die keuse!

Ernest