Paulus vra in Kolossense 4:3:
“Moet asseblief ook nie vergeet om vir ons te bid nie.”
Wanneer ons vir mekaar bid hoor God nie net ons
versugtinge nie, maar ons hoor self ook hoe ons vir
ander bid. Die wêreld leef net vir homself.
Om vir mekaar te bid help ons om weer op mekaar
ingestel te raak.
Dit is die Here se wil dat ons nie selfgerig moet leef nie.
Paulus vra ook nie dat daar vir hom gebid moet word
vir iets persoonlik ter wille van homself nie.
En dit terwyl hy in die tronk sit!
Hy vra dat gebid word vir sy koninkryk-werk.

Ons raak so maklik die middelpunt van ons gebede.
God se koninkryk en ander mense moet eerder
die fokus van ons gebede wees.
Bid ook saam met ander vir God se koninkryk.
Dit bring soveel meer perspektief.
Wanneer dit kom by bid vir deure wat moet oopgaan,
moet ons bid dat die Here ons moet wys watter deure
óns moet oopmaak.
Dit is anders as om te bid dat God die deure sal oopmaak.
Dit plaas die verantwoordelikheid op ons om self ook
deure te gaan oopstoot vir die Here.
Ons raak maklik so passief en dink dit is God se werk om
ál die werk te doen. Maar God wil deur ons werk!
God vra van ons om die moontlike te doen,
en Hy sal die onmoontlike doen.

Billy Graham het gevra:
“Hoeveel van ons wat vir ander mense bid,
is bereid om die instrument te wees waarmee God
daardie gebed kan uitvoer?”

Ernest