1 Johannes 1:9 sê so duidelik dat God vergewe:
“Maar as on sons sondes bely –
Hy is getrou en regverdig. Hy vergewe ons ons sondes
en reinig ons van alle ongeregtigheid.”
Een van die aangrypendste gebeure in die Ou Testament
wat God se genade en vergifnis beklemtoon vind ons
in die boek Jona. Jona gaan met ‘n harde preek na Nineve.
“Net veertig dae dan word Nineve verwoes”.
Die profeet self is nie vol ontferming nie.
Maar die aanhoorders van sy harde preek word dadelik
daardeur aangegryp.
Die koning van Nineve neem die inisiatief en kondig ‘n
tyd van berou af vir die hele stad en sy inwoners.
Die koning verwoord ook sy eie verwagtings in Jona 3:9:
“Miskien sal God van plan verander en nie meer
kwaad wees nie. Dan sal ons nie omkom nie.”
Dit is asof die koning meer insig in God se genade
en vergifnis het as die profeet self.
Toe God sien hoe opreg Nineve hulle van hulle verkeerde
dade bekeer, in ootmoed en gebrokenheid,
en dat hulle ernstig ‘n nuwe lewe wil leef,
het Hy afgesien van sy oordeel!
God spaar die lewens van 120 000 mense!
Dit is die genadige God!
Dit is die God wat in genade sy plan verander.
Hier sien ons God se goedheid en genade in die mees
asemrowende gebeure! God stel oordeel uit en af wanneer
sonde met ware berou en opregte geloof bely word.
God wil in genade reageer! God wil nie sy oordeel voltrek nie.
Berou en hartseer oor sonde het ‘n reuse impak in God se hart.
Want God sien ‘n opregte hart van berou altyd raak.
Hy sien opregte gebrokenheid raak.
Daar en dan bring Hy sy plan van straf tot ‘n einde!
God wil dat alle mense gered word en tot kennis van die
waarheid kom. God het nie ‘n behae in die straf van mense nie.
Berou het gevolge. Ware berou se gevolge is vergifnis by God!
Bely met ware berou, en wees verseker van vergifnis by God!
Verseker. Neem Hom op sy woord daarvoor.
Dit is die boodskap van die Woord van God.
Van God self!
Ernest