Wanneer God die stad Nineve vergewe
op grond van hul ware berou oor sonde,
dan is Jona kwaad daaroor! Jona 1:4:
“Hieroor was Jona baie ontevrede en hy
het baie kwaad geword.” Baie kwaad...
Kan jy dit glo?
God wysig sy planne, in sy genade, in reaksie op
ware berou oor sonde, en Jona is baie kwaad daaroor.
Jona wou letterlik vuur sien. Hoe kan God nou genade
bewys aan ‘n klomp heidene?
God moenie van plan verander nie.
God moet voorspelbaar bly, want dan kan ons Hom
makliker “onder beheer” kry. Jona wil God op so ‘n plek
hê dat Hy sal doen wat die profeet sê. Voorspelbaar.
Hy moet straf as die profeet sê Hy gaan straf.
God moet met oorsaak en gevolg werk.
Sonde bring straf. Punt.
Maar wat van berou, belydenis?
Jona se teologie laat nie ruimte daarvoor nie.
Hulle is heidene. Hulle verdien straf. Ons...en húlle.
Ten opsigte van onsself laat ons ruimte vir God se genade
en verandering van plan, maar ten opsigte van hulle wat
ons veroordeel, laat ons nie ruimte nie.
Jona wil God se plan in sement giet. En daarmee ook God
se genade en vergifnis.
Ons eie simplistiese Gods-beskouing,
naamlik dat as jou strepie getrek is, is dit getrek,
werk nou skielik nie meer vir Jona nie!
God het Nineve se strepie in een oogwink uitgevee!
Die getrekte strepies van 120 000 mense uitgestel!
Hy deel arms vol genade en nuwe lewe uit in Nineve!
Praat van genade en ‘n plan-veranderende God!
Ons het dit ook gesien in die lewe van koning Hiskia,
in Jesaja 38, waar die Here sê hy gaan sterf, en dan sy
lewe met 15 jaar verleng op grond van sy genade.
God is die genadige plan-veranderende God.
God self is die onveranderlike God. Maar God kan,
op grond van Wie Hy ís, sy plan verander soos Hy wil.
Jona se woede oor God se genade en sy goedheid is
verstommend, maar ook verstaanbaar. Veral vir ons
wat óók so maklik veroordeel en nie wil vergewe nie.
Ons giet ook graag vir God in sement om ons eie
oortuigings te regverdig. Ons wil God verstaan en sy
raadsplan uitgesorteer en onder beheer hê.
Die verrassende is dat God nie altyd werk soos ons
Hom graag wil “voorskryf” nie. Murray Janson het
treffend gesê: “God boer met genade!”
Hy pas sy planne ooreenkomstig sy wil aan.
Hy word aangegryp deur opregte berouvolle harte by
mense wat hul toevlug na Hom toe neem.
God deel genade uit, eerder as straf.
Hy gee lewe, eerder as dood.
Laat ons saam met God lewe, en nie so genadeloos
soos Jona wees nie.
Ernest