Net wanneer ons dink ons verstaan God nou heeltemal,
en ons het Hom “uitgesorteer”, dan verras Hy ons totaal en al!
‘n Kerkleier het eenkeer opgemerk: “Ek wens God wil
optree soos ek Hom verstaan en verwag, maar Hy doen dit nie.”
Ten minste verras God dié wat oop genoeg is om deur Hom
verras te word! Ons moet regtig weet: God pas nie mooi 100%
in by ons belydenisskrifte nie, of by ons teologie nie,
of ons preke, boeke en liedere oor Hom nie.
Ons het dit alles nodig, baie nodig, om in ons geloof en ons
verstaan van onsself en God te groei. Om in ons verhouding
met God te groei. Ons moet saam groei in hoe ons die Bybel
verstaan en God se wil kan uitleef.
Maar ons moet weet dat ons nie vir God hierin vasvang nie!
Hy is ook baie meer en groter as dit. Hy is God!

Een van die moeilikste dinge vir ons is om, soos Jona,
te verstaan dat God anders kan optree as wat ons verwag.
Jona weet dat God genadig en barmhartig is.
Hy sê dit in Jona 4:2: “Ek het geweet U is ‘n genadige en
barmhartige God, lankmoedig en vol liefde.
U sien maklik af van die straf wat U aangekondig het.”

Tog het Jona in sy hart gedink en geglo dat God Nineve gaan
verwoes. Hy sal mos nie van plan verander nie.
Daarom het Hy hom wat Jona is gestuur, om oordeel te spreek.
Daarom het hy buitekant die stad gaan sit en wag
op God se hemelse vuur van oordeel. Hy wil dit self sien.
Hy wou wraak sien. Oordeel. Toe niks gebeur nie was Jona
so kwaad dat hy vir God sê hy wil doodgaan. Nou het hy niks
om voor te leef nie. God het hom in die steek gelaat!

Kan jy dit glo! Jona is so kwaad vir die Here wat sy plan wysig,
om mense te red van die dood, dat hy nou self wil sterf.
Hy sê dit nie minder as drie maal nie hardop vir die Here!
Hy besef nie dat hy God nié kan vasvang in sy eie ongenadige
idees nie. Ons moenie dieselfde fout as Jona maak nie...

Laat toe dat God jou elke dag verras,
in sy genade en liefde vir mense.
Word deel van God se plan, nie van jou eie idees nie!

Ernest