Godsdienstiges is dikwels die mense met die minste genade.
Hulle weet presies wat alles verkeerd is en oordeel daaroor.
Hulle kan ook vertel van al die geestelike tekortkominge by
ander gelowiges. Tog is hul eie lewens dikwels liefdeloos.
Dalk moet ons almal wat gelowig is in Jona ‘n mentor sien.
Hy het presies geweet wat verkeerd is met Nineve,
en met God! Hy het geweet Nineve is té sondig,
en God is té goed...in sy oë

Geen wonder nie dat sy preek in Jona 3:4 geen genade toon
nie: “Nog net veertig dae en Nineve word verwoes.” Net dit!
Al het Hy geweet God is genadig. Hy het dan self in
Jona 4:2 gesê: “Ek het geweet U is ‘n genadige en
barmhartige God, lankmoedig en vol liefde.”
Nogtans is daar geen genade in Jona se preek of hart te
bespeur nie. Ons kan ook dikwels soos hy optree, en oordeel,
sonder om ruimte te laat vir God se genade.
Ons sal selfs oor sy genade veroordelend praat...

Maar let op, ten spyte van Jona se harteloosheid
teenoor Nineve, en sy kwaad wees vir God,
is God stééds genadig teenoor hom!
Hy stuur ‘n groot plant om koelte aan Jona te gee.
Maar, wanneer God later besluit om die plant weg
te neem, is Jona nog ‘n keer kwaad vir God.
Vir ‘n derde keer in net twee dae wil hy sterf.
Gryp jou dit aan! ‘n Profeet wat in die teenwoordigheid
van God net die wens het om te wil sterf.
Dit is asof Jona sê: Of Nineve, of hyself...
asof hy God voor ‘n keuse stel. God weier beide opsies.

God kan doen wat Hy wil en sy genade bewys soos Hy wil.
En Hy bewys dit aan Nineve én Jona!
Nie eers God se profete kan Hom dwing om nié genade te
bewys nie.
God is genadig! Glo dit!
Lééf daaruit! En deel dit uit!

Ernest