Jona is vies vir die Here omdat Hy die komkommerplant
laat sterf, en so die genade van skaduwee van hom af
wegneem, maar God mag nie genadig wees teenoor
‘n stad vol mense nie.
Want Jona het God se oordeel gespreek…
Die boek Jona eindig merkwaardig met Jona 4:11:
“Maar Ek mag nie besorg wees oor die groot
stad Nineve nie, ‘n stad waarin daar meer as
honderd en twintig duisend mense is wat nie weet wat
reg of verkeerd is nie, en ook nog baie diere?”

Dit is merkwaardig en ‘n vreemde manier om
‘n Bybelboek af te sluit. Dit is ‘n oop einde aan die boek.
Dit sluit af met ‘n vraagteken! Die boek los ons net hier,
sonder om verder te vertel wat met Jona gebeur het.
Ons weet nie of hy tot insig gekom het nie?
Ons weet nie of hy verbitterd in die woestyn
bly sit het nie?

Die teks wil egter nie verder oor Jona praat nie,
maar oor God! Dit wil God se absolute goedheid
en genade in die soeklig plaas.
Die God van Jona wat van plan verander om mense
uit genade te red. Jona se eie vooroordele word
ontmasker. Ook sy arrogansie om te dink die
heidene van Nineve verdien nie God se genade nie.
God se einde bly oop.
Nooit is iemand se lot so aan homself oorgelaat
dat God se genade nie meer ter sprake is nie.
Dink maar aan die een misdadiger saam met Jesus aan
die kruis, wat op die laaste oomblik tot inkeer kom.

God verander van plan wanneer berou ter sprake is,
want sy wil is dat alle mense gered word en tot
kennis van die waarheid kom.
Daar is ‘n baie groter punt in Jona om te onthou as
die vis-storie. Dit is die genade waarheid.
Jona moes leer hy is net die boodskapper van God
se Woord, en nie die beskikker van die Woord nie.
God beskik soewerein oor sy eie Woord.

Die boek Jona gaan oor die soewereiniteit en
genade van God.
Die laaste vers van die boek sê dat God se genade nie
net oor álle volke strek nie, maar selfs oor diere!
Ons moet in die skoene van Jona inklim, want óns
godsdiens bring ons ook dikwels in die moeilikheid by God,
soos met Jona, in plaas daarvan dat dit ons uit die
moeilikheid uithelp. Ons het, soos Jona,
soveel vooroordele ten opsigte van mense.
En ten opsigte van God!
Ons hoor nie Jona se antwoord aan die einde van hierdie
boek nie, want óns moet die antwoord gee!

Die antwoord:
U is reg Here! Dit is soos U wil.
As ek in U glo ontdek ek U is soewerein. En genadig.
U is die Here in my lewe. Nie ek nie.
U doen soos U wil.
U is soewerein.

Ernest