In Jeremia 18 kry Jeremia die opdrag van die Here
om te gaan kyk hoe ‘n pottebakker een of ander
bak of pot op sy pottebakkerswiel maak. Jer. 18:3:
“Ek is toe af na die pottebakker se huis toe,
en hy was juis besig om iets op die skyf te maak.”
Jeremia sien toe dat as die pottebakker se bak misluk,
druk hy die klei stukkend en begin van voor af.
Nadat Jeremia dit alles gesien het, praat God met hom.
Hy sê vir Jeremia dat Israel soos klei in sy hand is.
Die een oomblik kondig Hy straf oor hulle aan
wanneer hulle ongehoorsaam is,
maar wanneer hulle tot inkeer kom,
sien God dadelik af van sy plan om hulle te straf.
Dit herinner ons sterk aan die gebeure in die boek Jona,
waar die Here soortgelyk opgetree het teenoor die stad
Nineve se inwoners. En hulle was heidene.
God sien af van sy plan om te straf wanneer mense
tot inkeer kom!
God is die hemelse Pottebakker wat ons tot sy eer wil
vorm. Elke mens is ‘n stuk klei in die hand van God.
Na sy besoek aan die pottebakker maak Jeremia
God se wil aan Israel bekend. Hy vertel vir hulle dat God
die allerbeste pottebakkers werke met hulle wil skep.
Nou die belangrike: Hy vra van hulle om goeie, sagte klei
in God se hand te wees. Klei wat gevorm kan word na
God se wil. Om mense met sagte harte te wees wat
soek na God se wil en dit wil uitleef.
Maar helaas. Hulle koppe en harte is so hart soos klip.
Hulle steur hulle nie aan God nie. Nou is die boodskap
dat hulle niks goeds van Hom te wagte moet wees nie.
God forseer nie sy wil en boodskap op mense af nie.
Liefde kan nie afgedwing word nie.
En God is liefde, sê 1 Joh. 4:8 so duidelik.
Ons is klei in God se hand. Ons kan soos vormbare klei
in sy hand wees, of ons kan Hom weerstaan en soos
onbruikbare klei in sy hand word. Ons kan met God
saamwerk, of ons kan dit van die hand wys.
Die mens word geskep met die vermoë om te kan kies.
Vir God se liefde of teen sy liefde.
Vir God se wil of teen God se wil.
Wanneer ons weier is ons op ons eie.
Die mense in die stad Nineve het gekies om tot inkeer
te kom, en God red die stad.
Israel het teen God gekies en moes die gevolge dra.
Elke keuse het gevolge. Elke besluit wat ons neem
moet Godgerig wees. Elke besluit tel.
Werk soos vormbare klei saam met God.
Dit het ‘n hemelse eindproduk tot gevolg!
Ernest