God kan van plan verander soos Hy wil.
Jeremia 18:10 bevestig dit weereens:
“Wanneer hy doen wat verkeerd is in my oë
en ongehoorsaam is aan My, sien Ek af van
die goeie wat Ek aan hom wou doen.”
God is nog steeds besig met sy raad en die
uitvoering daarvan soos Hy wil.
God het nie kant en klaar oor alles besluit
en is nou onderhewig daaraan nie.
God is aan niks onderhewig of word deur niks gebind nie.
Gewoonlik praat ons oor God se planne asof dit kant en
klaar afgehandel is. Ons dink aan God se planne in die
verlede tyd. Iewers in die verlede het God klaar sy besluite
geneem en sy valbyl laat val. Dit is nie die volle waarheid nie.
Dit is wel die waarheid dat God in die ewigheid sekere
besluite geneem het. Paulus vertel daarvan in Efesiërs 1.
Maar God het nie elke liewe besluit klaar geneem nie.
Ons sien dit in die boek Jona. Ons sien dit ook hier in Jer. 18,
en op talle ander plekke in die Woord van God.
God se onvoltooide planne oor mense gebeur ook nie
eensydig nie. God het die mens met ‘n wil geskep,
en die vermoë om te kies tussen goed en kwaad.
Die vermoë om te kan antwoord op God se liefde en genade.
Hy neem mense se reaksie in ag. God maak ruimte vir
menslike aksies en reaksies. God se planne word ook geraak
deur mense se reaksie op sy openbaring aan hulle.
Wanneer mense Hom verwerp, sy genade van die hand wys,
en hulle rug op Hom draai, stuur hulle op ‘n ramp af.
In Jeremia 18:11 sê die Here vir die volk:
“Ek berei vir julle ‘n ramp voor, Ek is besig om ‘n besluit oor
julle te neem. Elkeen moet hom van sy verkeerde lewe bekeer.
Maak julle lewe en julle dade reg.”
Let op dat die Here sê Hy “is besig om ‘n besluit” te neem.
Dit is nie in die verlede afgehandel en hulle het geen keuse nie.
Daarom sê die Here: “Elkeen moet hom van sy verkeerde lewe
bekeer. Maak julle lewe en julle dade reg.” Hulle het ‘n keuse!
Maar kyk wat kies hulle in vers 12:
“Dit help nie. Ons wil lewe soos ons wil, elkeen wil sy eie koppige,
slegte lewe lei.”
Ons weet die volk se uiteinde was die verskriklike ballingskap.
Indien hulle egter berou sou gehad het, is God dadelik bereid om
vergifnis uit te stort en ‘n reddingsplan in werking te stel.
God se planne is oop. Ons het dit ook aan die einde van die boek
Jona gesien.
God hoor ons as ons bid.
God sien ons harte met opregte belydenis en berou.
God sien hoe ons toelaat dat die Heilige Gees ons lewenstyl
verander en hoe ons aan Hom gehoorsaam word.
Wat ‘n wonderlike en genadige God dien ons!
Hy ontferm Hom oor die detail van ons lewe!
Hy wil ons saam met Hom laat leef!
Ernest