God se wil is om die wêreld in en deur Jesus te red.
God sal nooit verander om oral en altyd die God
van redding te wees nie. Hy ís die God van liefde,
redding en genade. God Self verander nie in wese nie.
God is liefde. God sal nooit “skuif” in die rigting van
haat nie. God sal selfs op die laaste dag as God
van liefde regspreek. God se toorn wat sal brand oor
mense se sonde is reaksie op hul verwerping van
sy liefde. Dit laat Hom geen ander keuse as om met
hulle saam te stem dat hulle die dood verdien nie,
want die loon van die sonde is die dood.
God se wil om verhoudingsmatig op te tree sal ook
nooit verander nie. God openbaar Hom as Vader wat
in Jesus by ons is. So sal dit ewig wees. God se wil
verander ook nie om deur die Heilige Gees ons te lei
in die waarheid nie. God kom woon deur die Gees in ons.
God sal ook nooit ophou luister na gebede wat in die
Naam van Jesus Christus en binne sy wil gebid word nie.
God sal ook nooit afsien van sy wil in die hemel wat Hy
ook op die aarde wil laat geskied nie.
So eenvoudig is dit, en so wonderlik.
God se wil is ewig.
Maar God kan sy planne wysig.
Dit het ons gesien ten opsigte van Nineve, en Israel.
En ons sien dit ook in Jesaja 38 met die siekte van
koning Hiskia.Die goeie nuus is dat God se planne
dinamies is. God kan sy planne aanpas en skuif volgens
sy wil! Hy doen dit ook. God se planne is nie in sement
gegiet nie. Dit is ook nie wispelturig nie.
God verander van plan as dit dinamies inspeel op sy wil,
en sy wil nog beter laat geskied. Soos met koning Hiskia.
Hiskia smeek God om genade. God verander dadelik van
plan en stuur Jesaja terug na Hiskia. Hy gaan nog 15 jaar
by Hiskia se lewe voeg. God het ‘n datum, ‘n strepie
soos ons sê, uitgeskuif! Sy sterfdatum strepie!
Hiskia se strepie was toe nie getrek nie. Hiermee verander
God nie sy wil nie. Sy wil is steeds om te red en in
verhouding met mense te leef. God pas hier dinamies sy
plan aan by sy reddende wil. God word nou nog meer
verheerlik deur die gebeure met Hiskia.
Hiermee het God se wese nie verander nie! Hy is Wie Hy is!
Sy wese en sy wil as liefdevolle God bly vir ewig dieselfde.
Is dit nie wonderlike nuus nie...dat Hiskia se gebed God
se plan gewysig het. Dink net wat beteken dit vir ons.
Maar onthou. God doen nog steeds soos Hy wil.
Hy is soewerein!
Ernest