Geloof is nie aldag so eenvoudig nie.
Wanneer Prediker 8:16-17 sê dat hyself eers
al die werke van God begryp het toe hy opgehou
het om enige iets te verstaan, moet ons ligloop vir
oor-vereenvoudigings en vinnige antwoorde.
Ons verstaan nou dat God se wil die oorkoepelende
fokus is, en nie sy planne nie. God kan sy planne aanpas
soos Hy wil. En ons het gesien Hy doen dit. Inderdaad.
God skuif byvoorbeeld Hiskia se sterfdatum aan in
ooreenstemming met sy wil.
Beteken dit nou dat God se planne soms in stryd is met sy wil?
Nee, glad nie. God se wil bly die fondasie van sy planne.
God is ‘n dinamiese verhouding-gedrewe God. Nie ‘n statiese
dooie god nie. Nie ‘n god wat deur menslike denke bedink
word nie. Hy is God met ‘n hoofletter. Die enigste lewende
dinamiese God.
Daarom dat Hy Hom ook anders laat oortuig deur opregte
berou en inkeer, en deur opregte smeekgebede,
soos die van koning Hiskia. Hy is bereid om anders oortuig
te word deur opregte soekers. Dan oorweeg God sy planne
in die lig van sy wil.
Jesaja 38 laat ons vars en nuut oor God se wil dink.
Natuurlik sal ons nooit God se wil en planne volledig
verstaan en onder beheer kry nie. Hy is God! Ons is mense.
Geloof is egter nie ‘n ontsnappingsroete uit moeilike vrae nie.
God draai nie sy rug op ons omdat ons vrae het nie. Inteendeel.
Die Skrif worstel self met moeilike vrae.
Maar die gebeure met Nineve, en Israel, en koning Hiskia,
is maar ‘n paar wat wys dat God sy planne onder sekere
omstandighede wysig soos Hy wil.
Dit bring nie God se almag in gedrang nie.
Die boek Jesaja is juis een boek in die Bybel wat God se almag
in die helderste kleure skilder! Vanaf Jesaja 40 kom God
se almag, grootheid en heerlikheid sterk op die voorgrond!
Nogtans sal hierdie almagtige God Hom in genade ontferm oor
swakkes, soekers, mense wat sy aangesig soek met smeekgebede.
In die grootste opregtheid,
voor hul lewende en dinamiese Here God!
Ernest