Job 14:5 sê: “Die mens se dae is vasgestel,
U het die getal van sy jare bepaal,
U het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie.”
Hoe rym dit nou met koning Hiskia wat gebid het,
en sy lewe is met 15 jaar verleng?
Wat van sy getrekte strepie?
Ons glo dikwels dat ons lewensdae vooruit beplan is.
God het reeds ons sterfdag bepaal. Punt.
Hy sal sorg dat ons doodgaan op daardie einste dag.
Wat dan van koning Hiskia in Jesaja 38?
Wanneer ons Job 14:5 op die klank van die teks af lees,
klink dit reg dat ons “strepie getrek” is.
Dan wil dit voorkom asof alles deterministies gebeur.
Maar ons moet elke teks in konteks lees van die hoofstuk,
boek, testament, en die Bybel in geheel.
Ons kan nie ‘n bepaalde teks, of net ‘n paar tekste, na
willekeur uit konteks haal en bepaal dit is al tekste wat
ter sprake is wanneer ons oor God se wil praat nie.
In Job se geval moet ons onthou dat hy in hoofstuk 14
besig is om met God te worstel en arm te druk.
Hy wil die punt maak dat dit egter tevergeefs is om met
God te stoei, want God doen net wat Hy wil!
Hy hok mense se lewens in binne ‘n afgemete tyd. Punt.
Dit is hoekom Job vertel dat die bome van die veld baie
beter daaraan toe is as mense. Al gaan hulle takke en
stam dood, loop dit later weer uit – Job 14:7-13.
Met mense is dit nie so nie – hulle is sterflik,
hulle gaan na die doderyk toe.
Job se punt in vers 5 is dus nié ‘n algemene, ontologiese,
uitspraak oor ‘n deterministiese God nie. Dit vorm deel
van die regsgeding in die konteks waarin hy God van
onregverdigheid beskuldig!
Ons kan nie vers 5 veralgemeen en aflei dat byvoorbeeld
ook vers 14 van alle mense waar is nie.
In vers 14 vra Job: “As ‘n mens sterf, sal hy weer lewe?”
‘n Retoriese vraag om te sê hy sal nie. Daarom die res van
vers 14 wat sê; as jy weer sou lewe, sou hy wat Job is
maar net wag tot sy swaarkry verby is, en sou hy nie
nodig hê om so met God te worstel nie!
Ons weet dit is nie waar in die konteks van die
hele Bybel nie, en ook nie ten opsigte van alle mense nie.
Mense wat in Christus nuut gemaak is sal vir ewig lewe!
Ons lewe in ‘n dinamiese verhouding met ‘n
verhoudings-matige God!
Jou strepie is nie maar getrek nie...Goddank!
Ernest