Wanneer ons besef dat ons nie net op die klank af
met tekste soos Job 14:5 moet werk nie,
en dan verkeerde afleidings maak, soos dat God
‘n deterministiese onveranderlike plan het oor iets
soos ons sterfdag nie, dan dink ons ook onwillekeurig
aan ‘n teks soos Psalm 139:16:
“U het my al gesien toe ek nog ongebore was,
al my lewensdae was in U boek opgeskrywe
nog voordat ek gebore is.”
Dit laat ons dink. En ons moet dink!
Weereens moet ons dit binne die konteks van
die hele Psalm lees. Vers 16 staan nie los van
die res van die Psalm wat die grootheid van God
verwoord, ook in die manier hoe Hy ons elkeen
uniek geskep het nie, en elke lewensdag by ons is.
Psalm 139 beklemtoon die feit dat nie een van
ons ‘n biologiese toevalligheid is nie. Ons is nie
die produk van die noodlot nie. Op ‘n misterieuse
en wonderbaarlike wyse het God elkeen van ons
geskep in die moederskoot. Ons is van geboorte af
tot in ewigheid in die hand van die lewende God.
Sonder God kan ons niks doen nie – verse 1-6.
Van God kan ons nooit ontvlug nie – verse 7-10.
Vir Hom kan ons niks wegsteek nie – verse 11-12.
God ken ons deur en deur – verse 12-16.
God is ondeurgrondelik.
Hy is te groot om te verstaan – verse 17-18.
Psalm 139 is ‘n belydenis van die grootheid van God,
en die misterie daarvan dat hierdie almagtige God
Hom bemoei met en ontferm oor klein mensies.
Meer nog, Hy is in die fynste detail by ons betrokke.
Hierdie is nie ‘n deterministiese Psalm wat met
vers 16 aankondig dat ons strepie onveranderlik
deur God getrek is nie. Vers 16 beklemtoon dat God
elkeen van ons lewensdae by ons betrokke is.
Inteendeel, Psalm 139 bely dat nóg ons geboorte,
nóg ons sterwe sinlose toevallighede is!
God weet en is in beheer van ons hele lewe.
Ons lewe en sterwe is in sy hand. Elke dag.
Dink maar weer aan koning Hiskia in Jesaja 38.
God laat Hom nie deterministies aan ‘n datum bind nie.
Nie deur ons nie, en Hy doen dit ook nie Homself nie.
Ons kan jubel daaroor.
Juis dit gee ons die vrymoedigheid om in die aangesig
van siekte en dood met smeekgebede in God se
teenwoordigheid te mag kom! Soos koning Hiskia.
God tree in sy liefde en genade op soos Hy wil.
Dit is wonderlik om in die hand van God te wees!
Ernest