Psalm 139:16 sê dat al ons lewensdae in God se boek
opgeskryf is. Ons het gesien dat hierdie teks nie
deterministies verstaan moet word nie. Die klem lê
nie op ons sterfdatum se strepie wat getrek is nie.
Dit word bevestig deur ander verwysings in die Bybel
na God se boek. In tekste soos Psalm 69:29 en
Daniël 12:1 leer ons dat die klem in die Ou Testament
veel eerder val op God se boek as ‘n boek met name
van al die regverdiges. Lees gerus hierdie tekste!
Die belangrikste is nie hoe oud die regverdiges word nie,
maar veel eerder dat hulle name in die boek van God
staan vir tyd en ewigheid. Die boek van God gaan eerder
oor wie vir ewig in sy teenwoordigheid leef!
Dit word ook bevestig in Openbaring 20:11-15.
Dit vertel dat wanneer die dooies op die dag van die
wederkoms voor God staan, die boeke oopgemaak word.
Daar is die boeke met die werke van die onregverdiges.
Hulle word in die vuurpoel gegooi.
Dan word ook die boek van die lewe oopgemaak.
Vers 12 sê: “...Daar is ook ‘n ander boek oopgemaak,
dit is die boek van die lewe.”
Daarin staan die name van hulle wat in Jesus Christus glo,
die regverdiges.
Hulle ontvang die nuwe hemel en die nuwe aarde as erfenis.
Ons moet dus tekste soos Job 14:5 en Psalm 139:16
in konteks met die hele Skrif lees.
Baie mense kies net hierdie twee tekste uit as “bewyse” dat
God ‘n onbuigsame plan het waarmee jou strepie getrek is.
Hierdie tekste het nie net te doen met geboorte en
sterwe nie, maar veral met die léwe tussenin!
Dit is vir God veel belangriker hoé ons vir Hom lewe,
én dat ons name in die boek van die lewe opgeskryf is!
Ons moet minder besorg wees oor ons geboorte- en
sterfdatum, en meer oor die lewe tussen geboorte en sterwe.
Koop die tyd uit! Leef voluit vir die Here!
Efesiërs 5:16:
“Maak die beste gebruik van elke geleentheid...”
Ernest