God stel Homself op verskillende maniere aan
mense bekend. Ons lees in Eksodus 5 dat God
vir Moses geroep het om na die Farao te gaan
en die Israeliete uit Egipte te red.
Moses het egter baie verskonings oor hoekom
hy nié wil gaan nie.
Toe het God hom verseker dat Hy by hom sal wees
en hom sal lei oor wat om te doen.

Daar is twee groepe in hierdie gebeure.
Aan die een kant is dit die goddelose Egiptenare,
en aan die ander kant die Israeliete.
Die belangrike is dat God Homself aan albei groepe
wil bekendmaak. Omdat die Egiptenare se Farao nie
in God geglo het nie, het hy keer op keer geweier om
die Israeliete te laat gaan.

Later het die plae wat God gestuur het veroorsaak dat
die Farao in onderhandelings met God begin gaan.
Hy vra vir Moses om vir God te vra om die paddas te
laat weggaan, dan sal hy die volk Israel laat gaan.
Wanneer God die plae laat weggaan,
het Farao keer op keer sy belofte verbreek.
Eers na die tiende plaag het die Farao besef wie God
regtig is en dat hy nie met God kan onderhandel nie.
So het God sy karakter aan Farao bekend gemaak.

Terselfdertyd het die Israeliete al die plae aanskou
en besef dat hulle niks oorkom nie.
In die proses sien hulle dat God hulle beskerm,
en leer hulle God weer op hierdie manier ken.
In Eksodus 10 lees ons dat die Here die Farao se
onversetlikheid toegelaat het, sodat Hy wat God is
hierdie wonders kan doen, want dan, sê Hy aan Moses,
kan dié aan sy kinders en kleinkinders vertel wat God
gedoen het sodat hulle kan besef dat Hy die Here God is!

Die Here kan self kies hoe Hy Hom aan die mens bekend
wil maak. Of dit nou deur rampe of voorspoed is.
Wat die effek van die ramp of voorspoed gaan wees,
gaan afhang van hoe ons gaan kies om te reageer op
Wie God is. Wanneer ons soos die Farao en Egiptenare
weier om te aanvaar dat Hy in beheer is, gaan die rampe
ons vernietig. Maar as ons soos die Israeliete in
verwondering staan oor die wonderwerke wat God doen,
en erken dat dit die werke van die almagtige God is,
sal dit goed gaan met ons.

Hoe het God gekies om Homself aan jou bekend te maak?
Deur voorspoed, of teenspoed, of tragedie?
En hoe het jy daarop reageer?
Mag jy in verwondering staan oor Wie God werklik is!
Mag jy jou knie buig voor die enigste Koning,
Hy wat vir ewig sal heers!

Ernest