Hardkoppigheid is onbuigsaamheid.
Nie een van ons wil bekendstaan as dat ons
hardkoppig is nie. Maar as iemand al verskeie kere vir
jou aangeraai het om iets op ‘n ander manier te doen,
of jou net goeie raad gee, en jy weier botweg sonder
om die voorstel te oorweeg, is jy hardkoppig.
Jy kan oor baie dinge hardkoppig wees.
Jy wil nie ‘n sekere gewoonte neerlê nie,
of jy wil nie iemand vergewe nie,
of jy wil nie na raad luister nie...
Hardkoppigheid word gedryf daardeur dat jý in beheer
wil wees. Jy wil wys jy “weet beter” as jou vrou,
of jou kollegas, of jou vriende...‘n Hardkoppige mens
wil altyd doen presies wat hy of sy wil doen.
Die Farao van die Egiptenare was so ‘n hardkoppige mens.
Hy het teen alle koste teen God probeer staan.
Selfs ten spyte van die plae en verskriklike effek daarvan
op hom en sy eie mense. Hy sien dit, en bly hardkoppig!
Hierdie hardkoppigheid is nie net deel van die goddelose nie.
Ons wat kinders van die Here is, is dikwels baie hardkoppig.
Dink net hoe hardkoppig was die einste Israeliete in die
woestyn nadat die Farao hulle vrygelaat het.
Net toe hulle die eerste terugslag in die woestyn kry,
begin hulle nukke.
Die arme Moses moes toe weer met hulle bontstaan!
Hy het al sy dae om hulle aan te moedig om nie hulle
vertroue in God te verloor nie.
In die meeste van ons is ‘n stukkie hardkoppigheid.
Jy wil nie luister as jou vrou sê jy het nou verdwaal nie.
Jy sal om en om in sirkels ry en maak of jy weet waar jy is.
Of jy wil nie na raad luister oor ‘n siekte wat jy onder
lede het, en dat jy mediese hulp moet kry nie.
So kan ons bly voorbeelde noem.
In Hebreërs 3:15 word ook oor hardkoppigheid gepraat.
“Vandag as julle sy stem hoor,
moet julle nie hardkoppig wees nie,...”
Ons moet nie hardkoppig wees met die Here wat met ons
praat nie.
Vertrou die Here onvoorwaardelik met jou lewe,
en hou op om hardkoppig te wees en jou eie lewe te wil leef,
asof jy beter weet as God!
Kom nou, en werk saam met God. Wees soos klei in sy hande.
Luister nou vandag as Hy met jou praat. Want Hy doen dit!
Luister. En doen saam met Hom!
Ernest