Ons is ongelooflik besig!
Ons het oorvol dagboeke,
ons skarrel rond van vroeg tot laat,
ons leef met rustelose harte.
Ons is altyd op pad iewers heen.
Hier en nou is nooit vir ons so belangrik as
waarheen ons op pad is nie.
In die week kan ons nie wag vir die naweek nie.
Ons leef van naweek tot naweek. Dikwels is ons
nog meer moeg na ‘n naweek, as voor die naweek.
Ons pak ook ons naweke vol. Nooit is ons rustig nie.
Nooit is ons werk afgehandel nie. Daar is altyd nog
iets om te doen. Dit maak dat ons glad nie deur
onverwagse dinge onderbreek wil word nie.
Daarom is ons ook ongemaklik wanneer mense
onverwags op ons pad kom, aan ons deur klop,
of aandag en tyd vra. Ons het dit nie beplan nie,
en voel dan ons verloor beheer.
So mis ons baie van dit wat God deur ons wil doen.
Ons is te besig. Te besig vir God, en te besig vir mense.
Ons wil as’t ware alles dagboek en beplan.
Ons laat dit buite rekening dat God juis ook, en veral,
in die onbeplande oomblikke deur my lewe aan die
werk wil wees in hierdie wêreld.
God werk nie net wanneer ek dink Hy is aan die werk nie.
Hy wil ook nie net deur my werk as ek “tyd daarvoor”
het nie, of dit “beplan” het nie.
God werk ook nie net as ek beskikbaar en gehoorsaam is nie.
God werk meestal ten spyte van myself.
Ons moet ophou om te dink ons is suksesvol in ons diens
aan die Here omdat ons program en lewe goed georden is.
Ons moet eintlik leer om ons vol dagprogram aan die Here
weg te gee! Dit is juis wanneer ek toelaat dat die Here my
verras deur onverwagse situasies, mense en omstandighede,
dat sy wil op aangrypende maniere in my lewe ontvou.
Dit vra waagmoed, maar kry hierdie waagmoed,
en gee jou vol dagboek gelowig aan die Here, elke dag!
Wees beskikbaar! Vir Hom. Vir mense.
“Tevergeefs dat julle vroeg opstaan en laat gaan slaap om
met moeite ‘n bestaan te maak. Vir dié wat Hy liefhet,
gee die Here dit in hulle slaap.” – Psalm 127:2.
Ernest